Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 21 May 2018

Van der Westhuizens reeds ingeburger

Wessie en Magda van der Westhuizen
Wessie (65) en Magda (59) van der Westhuizen het onlangs hul intrek in E120 geneem. Hulle het dié eenheid in 2013 aangeskaf met die oog op hulle uiteindelike aftrede aan die einde van 2017. Intussen het hulle dit verhuur terwyl hulle op die perseel van die Mabula Game Lodge naby Bela-Bela gewoon het waar Wessie sedert 1999 as ‘n assistent reservaatbestuurder werksaam was.

Magda is op Uitenhage gebore en het later saam met haar ouers na Bloemfontein verhuis waar sy grootgeword het. Sy het in 1977 matriek aan die Hoërskool Prinshof in Pretoria geslaag. Hierna het sy ‘n diploma in sekretariële werk aan die Tegniese Kollege Bloemfontein behaal. Sy het vervolgens hoofsaaklik algemene kantoorwerk vir verskeie tandartse behartig.

Wessie is op Aroab in Namibië gebore en het op die familieplaas tussen Aroab en Keetmanshoop grootgeword. Hy het matriek in 1970 aan die Hoër Tegniese Skool Upington behaal. Hierna het hy by die Tegniese Dienskorps van die Suid-Afrikaanse Weermag in diens getree. In 1979 het hy sy ontslag met die rang van luitenant geneem. Hierna het hy hy buite Lückhoff in die Vrystaat gaan boer.

Wessie en Magda is in 1991 getroud nadat sy eerste eggenote oorlede is. Magda beskou Wessie se twee kinders en twee kleinkinders as haar eie. Hulle seun woon en werk in die VSA terwyl hulle dogter en haar wederhelf by wildboerdery buite Bela-Bela betrokke is.

Dié gemoedelike egpaar het groot waardering vir ons goedversorgde terrein en hulle rustige en veilige leefwyse in ons oord.


No comments:

Post a Comment