Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 17 May 2018

Hóé op dees aarde kry hulle dit reg?

Opskeptyd
Ons sosiale aksie-groep het onlangs weer eens die spreekwoordelike haas uit die hoed getrek toe hulle ʼn uitmuntende kontrei-ete in die Nes aangebied het. Die maaltyd het drie smullekker vleisgeregte, stampmielies, geelrys, groente en nagereg ingesluit en het naastenby soveel per persoon gekos as ʼn Wimpy-hamburger. En alhoewel die doel nie ʼn geldmakery is nie, het hulle tóg daarin geslaag om ʼn klein wins te maak.

Hoe op dees aarde slaag hulle daarin om telkens met uiters bekostigbare uithanggeleenthede soos dié vorendag te kom?

Dit verg fyn beplanning, sê hulle, en ʼn span formiddabele kosmakers.

Die primêre doelstelling van funksies soos dié is om kuiergeleenthede daar te stel sodat inwoners mekaar kan leer ken en, wie weet, blywende vriendskapsbande te smee.

Te oordeel aan die gemoedelike stemming wat geheers het, het diegene wat die koue trotseer het, heerlik gekuier.

Van links na regs verskyn Marie Snyman, Ria van Rensburg, Wilma Kense, Hester Botes, Diekie Venter en Alet Erasmus

No comments:

Post a Comment