Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 15 March 2016

Oord vier eersdaags kwarteeufees



Die bestuurskomitee het op 25 Februarie die aanbevelings van die "feeskomitee" met betrekking tot die kwarteeufeesviering van die oord op 22 April 2016, goedgekeur.

Inwoners en oud-inwoners, asook Reanett Bezuidenhout (bestuursagent) en Werner Pauw (ontwikkelaar) en hulle gades, kan die funksie bywoon. Skriftelike uitnodigings sal eersdaags uitgestuur word.

Straatverteenwoordigers van die sosiale aksiegroep is versoek om ‘n man (of twee) in hulle laan te vra om ‘n potjie van hulle keuse te maak. Die sosiale aksie sal vir die bykosse sorg. Die koste daarvan sal van die oord verhaal kan word.

Die makietie sal in die Nes-gemeenskapsaal en op die grasperk voor die administratiewe gebou plaasvind.

Wanneer die feesgangers by die Nes opdaag sal een gedenkblad per wooneenheid oorhandig word. Die foto hieronder toon die voorblad daarvan. Dit bestaan uit 16 bladsye wat, onder andere, ‘n opsomming van die geskiedenis van die oord en heelwat foto’s bevat. ‘n Inwoner wat die funksie nie kan bywoon nie, se gedenkblad sal in sy of haar posbus geplaas word.


Vervolgens sal die verrigtinge met ‘n skriflesing en gebed geopen word, waarna die voorsitter van die bestuurskomitee die aanwesiges sal verwelkom.

Nadat ‘n inwoner ‘n heildronk op die oord ingestel het, volg "Uit toeka se dae". Vyf persone sal vertel van hulle wedervarings toe die oord pas begin is. Die name van hierdie persone sal mettertyd bekend gemaak word sodra finale reëlings met hulle getref is.

Ten slotte sal ‘n bedankingswoord of twee gespreek word en daarna neem die ete en drinke ‘n aanvang. Alhoewel die kos gratis voorsien sal word, word inwoners aangeraai om hulle eie eetgerei en drinkgoed saam te bring.

‘n Glas (of meer) tafelwyn sal beskikbaar wees aan diegene wat 'n donasie in 'n houer plaas.

Soos reeds vermeld, is die oord verantwoordelik vir die koste van die maaltyd. ‘n Groot deel van die onkoste aan die gedenkblad word gedra deur plaaslike sakeondernemings en ander persone wat bladsye geborg het. Hulle besonderhede verskyn in die blad.

Die oord erken ook met dank ‘n skenking deur Rita Senekal wat ’n hele R1 000 tot die verrigtinge bygedra het. 

No comments:

Post a Comment