Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 1 December 2015

Ons groet 'n ware heer

Na dertien jaar verlaat die eerbiedwaardige Hennie Pieters ons oord op 21 Desember 2015. Hy sal voortaan by sy dogter, Marian, in Kiblerpark woon.

Hennie Pieters
Hennie is op 23 Augustus 1926 gebore. Hy het sy laerskoolopleiding aan 'n plaaskool deurloop. In st. 6 is hy na die Laerskool Middelburg en die volgende jaar, na die Hoërskool Middelburg waar hy gematrikuleer het.

Terwyl hy in matriek was, het sy pa hom na die bankbestuurder op Bethal geneem ten einde 'n studielening te bekom om sy voorgenome universiteitstudies te befonds. Op advies van die bankbestuurder het hy egter vroeg die volgende jaar 'n pos by 'n plaaslike rekenmeestersonderneming aanvaar. 

Hier was hy vyftien jaar lank werksaam voordat hy 'n betrekking as 'n boekhouer/sekretaris by 'n megaboer, Lampie Nichas, aanvaar het. Hy het ook deeltyds geboer. In 1992 het hy afgetree.

"In 1950 trou ek met my droomvrou. Haar naam was Marie," vertel Hennie.

Hennie en Marie Pieters
Drie kinders, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders is uit hulle huwelik gebore. Sy twee dogters is onderwyseresse en sy seun het 'n honneursgraad aan die RAU behaal.

Nadat hulle 10 jaar lank elders in Warmbad gewoon het, het hy en Marie in Oktober 2002 om veiligheidsredes na Warmbad Renaissance verhuis en hulle intrek in Eenheid 41 geneem. Hulle het later na Eenheid 16 getrek.

Marie het hom in 2011 ontval.

"Vier jaar gelede het ek 'n baie spesiale vrou ontmoet," vertel Hennie met glinsterende oë. "Haar naam is Ria Janse van Rensburg. Sy woon ook in die oord. Ons kuier elke dag oor en weer."

No comments:

Post a Comment