Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 19 September 2015

Twee spreekwoordelike swaargewigte

Koos (75) en Jossie (75) Franken het in 1999 hulle intrek in E14 geneem en wil nêrens elders as in onse Bosveld-oase woon nie. 

Jossie en Koos Franken
Dit was 'n voorreg om hulle lewe in oënskou te neem. Koos was student, kelner, navorser, wetenskaplike, dosent en huisagent. Tans beoefen hy die skilderkuns, bemoei hom met die sterrekunde en is versot op sy rekenaar. Jossie was deurgaans vir hom 'n steunpilaar en tuisteskepper. Hierbenewens was sy 'n gerekende huishoudkunde-onderwyseres en die skryfster van 'n reeks boeke oor haar vak.

Koos is in Melville, Johannesburg, gebore en Jossie, in Randfontein. Koos het in Johannesburg grootgeword en in 1957 aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer. Jossie het die matrikulasie-eksamen in 1958 aan die Hoërskool Monument geslaag.

Koos is hierna na die Potchesftoomse Universiteit waar hy 'n B.Sc.(Hons)-graad behaal het. Vervolgens het hy 'n 3-jarige Nasionale Hoër Tegniese Diploma in Wetenskap verwerf en 'n studiebesoek aan die University of California, Los Angeles (UCLA) in die VSA gebring. Jossie het die Hoër Onderwysdiploma in Huishoudkunde aan die Potchefstroomse Onderwyskollege behaal.

Koos se professionele loopbaan was ewe indrukwekkend. Terwyl hy in diens van die Suid-Afrikaanse Kamer van Mynwese was, het hy navorsing in toegepaste fisiologie gedoen wat onder andere daartoe gelei het dat protokolle ontwikkel is om die lewens van mynwerkers te beveilig. Hieroor was hy die mede-outeur van verskeie vakkundige artikels. Vervolgens was hy 'n dosent aan die toenmalige Tegniese Kollege van Pretoria (tans die Tshwane Universiteit van Tegnologie) en tree uiteindelik af as die direkteur van die Skool vir Gesondheidswetenskappe en Biotegnologie van die Technikon Witwatersrand.

Jossie het huishoudkunde aan o.m. die Hoërskool Linden onderrig.

Nadat hulle in 1998 afgetree het, reageer hulle op 'n koerantadvertensie en verhuis na Warmbad Renaissance waar Koos sommer dadelik by oordaktiwiteite betrokke geraak het. Hy het onder andere wooneenhede namens die ontwikkelaar verkoop, twaalf jaar in die bestuurskomitee gedien en die oord se nuusbrief behartig. Jossie het verkies om 'n lae profiel te handhaaf. Sy het gekook, naaldwerk gedoen en baie gelees.

Hierdie merkwaardige egpaar is reeds 51 jaar getroud. Hulle het twee dogters en een kleindogter.

No comments:

Post a Comment