Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 27 August 2015

Oord hou spesiale algemene vergadering

'n Spesiale Algemene Vergadering van die Warmbad Renaissance Bestuursvereniging het op 27 Augustus 2015 plaasgevind.

Inwoners wag vir die verrigtinge om te begin
Hierdie vergadering word normaalweg dié tyd van die jaar gehou om die finansiële state vir die vorige jaar goed te keur. Hierbenewens word die inwoners uitgenooi om mosies oor sake van algemene belang, in te dien.

Die voorsitter van die bestuursvereniging, Gerhard van Rooyen, lei die vergadering. Links van hom sit (v.l.n.r) Werner Pauw (ontwikkelaar), Reinett Bezuidenhout (bestuursagent) en Lirpa Kuntz (sekretaris van die bestuursvereniging)
Piet Combrink het 'n mosie oor waternood ingelei. Hy het daarop gewys dat die gevaartekens ten opsigte van moontlike watertekorte nie net in ons geweste voorkom nie. Die Amerikaanse World Resources Institute het onlangs daarop gewys dat die tekort aan water in Suid-Afrika kritiese vlakke bereik het. Prof. Kobus van der Walt,van die Departement van Natuurwetenskappe aan die Potchefstroomse Universiteit, het onlangs geskryf dat dit onwettig behoort te wees om toilette met drinkwater te spoel of tuine daarmee nat te lei. 

Piet Combrink aan die woord
'n Verbandhoudende mosie is deur John Scheepers ingedien. Hy het gepleit dat ons oord oorweging daaraan moet skenk om vir water op die perseel te boor.

Hy het daarop gewys dat 'n huishouding maklik sonder elektrisiteit kan klaarkom wanneer beurtkrag ingestel word deur van alternatiewe kragbronne gebruik te maak. In teenstelling hiermee is daar geen alternatief vir water nie.

Die vergadering het vervolgens 'n ad hoc-komitee aangewys om die moontlikheid van 'n boorgat te ondersoek. Dié komitee bestaan uit Gerhard van Rooyen, Pat Olivier en John Scheepers.

Hierna het die bestuursagent, Reanett Bezuidenhout die finansiële state vir die jaar geëindig 31 Desember 2014, ter tafel gelê. Sy het daarop gewys dat die finansiële posisie van ons oord besonder gesond is. Nadat sy nog enkele vrae beantwoord het, is die finansiële state eenparig goedgekeur.

No comments:

Post a Comment