Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 2 December 2014

Johnny Meyer as voorsitter van die 2015-bestuurskomitee verkies

Na 'n kort blaaskans van 'n jaar, is Johnny Meyer tydens die pasafgelope Algemene Jaarvergadering weer eens aangewys as voorsitter van die Bestuurskomitee.

Johnny Meyer
Hy kan met reg aanspraak maak op die benaming "strydros". Hy dien reeds sedert 2005, met enkele kort onderbrekings, in die amp.

Johnny het voorheen getoon dat hy besondere deernis met die inwoners van Warmbad Renaissance het. Hy is bereid om alles in sy vermoë te doen om inwoners tot hulp te wees.

"Hulle kan my enige tyd van die dag of nag om raad en bystand nader," sê hy.

Wat is sy vernaamste doelstelling vir 2015?

"Ek beoog om inwoners voortdurend aan te moedig om hulle naaste lief te hê. Ons mense se geluk hang in hoë mate af van vreedsame naasbestaan," sê hy met oortuiging.

Johnny en Shiela het dertien jaar gelede by Eenheid 78 ingetrek nadat hulle vanaf Pretoria hierheen verhuis het.

Johnny is in Middelburg gebore en het in Pretoria groot geword. Hy het sy ouers op 'n vroeë ouderdom verloor en moes gevolglik gou uitspring om 'n geldjie te verdien toe hy 'n betrekking as 'n klerk by die voormalige Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens aanvaar het. Hy het deeltyds gestudeer en die matrikulasie-eksamen met goeie gevolg aan die Pretoriase Tegniese Kollege afgelê.

Shiela is in Pretoria gebore en het agttien jaar later aan die Hoërskool Carolina gematrikuleer. Sy en Johnnie het kort voor lank op mekaar verlief geraak. Hulle het 56 jaar gelede die knoop deurgehaak.

Intussen het Johnny hard gewerk en mettertyd die rang van Superintendent bereik. Shiela het met ewe groot toewyding 'n standvastige huis vir hom en hulle vier kinders geskep. Hulle spog ook met nege kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

In 1988 was Johnny genoodsaak om weens gesondheidsredes uit die diens van die SAS & H te tree.

No comments:

Post a Comment