Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 9 December 2014

Geduld, o geduld ...

Kort ná die Tweede Vryheidsoorlog (1899 - 1902) skryf die Afrikaanse digter en skrywer, C Louis Leipoldt, 'n gedig waarvan die titel In die konsentrasiekamp is. Ek haal enkele verse daaruit aan:

"En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,
'n Spreekwoord tot steun - daar's geen trooswoord beslister:
‘Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!’"

C Louis Leipoldt
Hoewel in 'n ander verband, vereis huidige omstandighede dat die inwoners van ons mooie omgewing eweneens emmersvol geduld aan die dag moet lê.

Die dubbele aanslag van beurtkrag en onderbrekings van tot drie opeenvolgende dae in die munisipale watertoevoer na die oord wat sedert Oktober met eentonige reëlmaat plaasvind, beproef die lankmoedigheid van ons inwoners terdeë. 

Daar ís egter 'n welkome liggie wat op hierdie swaarmoedige toedrag van sake skyn. 

Danksy die Bestuurskomitee se versiendheid sowat ses jaar gelede, is water by verskeie buitekrane in die oord beskikbaar om aan die inwoners se basiese behoeftes te voldoen indien die munisipale watertoevoer onderbreek word.

Die notules van die Warmbad Renaissance Bestuurskomitee vanaf 1 Oktober 2009, vertel die storie.

Op hierdie datum lui die notule dat "een of twee watertenks aangeskaf [moet] word vir noodgevalle." 'n Ad hoc-komitee word aangewys om die aangeleentheid te ondersoek.

Louis van Wyk
Nadat Louis van Wyk 'n kosteberekening gedoen het, keur die komitee op 29 Oktober 2009 die installering van twee watertenks goed en versoek hom om daarmee voort te gaan. Louis, 'n man wat nie gras onder sy voete laat groei nie, is verantwoordelik vir die instandhouding van die oord se bates. Hierin word hy getrou bygestaan deur ons faktotum, William Baloyi.

William Baloyi
Par. 10 van die notule van 'n Algemene Jaarvergadering op 29 November 2009, lees soos volg: "Die Bestuurskomitee het na deeglike oorweging besluit om twee watertenks, wat elkeen 10 000ℓ neem, op te rig. Dit is vir gebruik in noodtoestande wanneer die [munisipale water-]toevoer na die oord onderbreek word. Werner Pauw (Ontwikkelaar) het een karavaan-afdak vir die plasing van die tenks gratis beskikbaar gestel. Hy word hiervoor bedank."

Werner Pauw
Op 24 November 2011 word Louis versoek om pype vanaf die tenks na die Nes en vyf buitekrane aan te lê teen 'n koste van sowat R1 500. Die doel hiervan was om te verseker dat inwoners maklike toegang tot water sou hê indien die munisipale watertoevoer onderbreek word. 

Op 26 Januarie 2012 berig die notule dat die installasie afgehandel is. Die totale koste was R23 881.00.

Op 31 Mei 2012 word die moontlikheid van 'n boorgat geopper. 'n Inwoner wat ook 'n geoloog is, Gerrit Fourie, sou versoek word om die haalbaarheid van soiets te ondersoek. Indien dit nie die geval is nie, is "'n ander moontlikheid om nog twee watertenks op te rig".

Gerrit het later bevind dat 'n boorgat onprakties sou wees en op 30 Augustus 2012 besluit die Bestuurskomitee dat dit "baie meer haalbaar is om nog twee tenks op te rig." Hierdie besluit is later in die jaar ten uitvoer gebring.

Die watertenks
Louis van Wyk gee ruimskoots erkenning aan die hulp en raad wat hy en William van 'n jare lange inwoner, Koos Franken, ontvang het. Koos het, onder andere, 'n bepalende rol gespeel in die plasing van die watertenks naby die westelike ingang tot die karavaan-afdakke. Dié ingang verleen in 'n noodgeval maklike toegang aan 'n munisipale watertenkvragmotor tot die watertenks.

No comments:

Post a Comment