Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 9 May 2014

Lank, lank gelede ...

Lank, lank gelede was daar twee pragtige meisiekinders. Hulle name was Rita Gunter en Lirpa Rawlins.

In 1962 het Rita matriek aan die Hoërskool Mafeking geslaag en Lirpa, aan die De Villiersstraat Handelskool in Germiston - óók in 1962.

Beide het besluit om onderwysers te word. Lirpa sou 'n driejarige diplomakursus in Handelsvakke volg en Rita, een in Huishoudkunde.

So beland hulle in 1963 by die Pretoriase Tegniese Kollege in Kerkstraat. Dié inrigting het later die Tshwane University of Technology geword.

Nog was het einde niet. Hulle het nie alleen in die Heidehof-koshuis tuisgegaan nie, maar ook in dieselfde gang!

In 1965 het die kollege oudergewoonte sy jaarlikse karnaval gehou. Die aanwysing van 'n karnavalnooientjie en twee prinsesse was deel van die prettighede. Die karnavalnooientjie was destyds die eweknie van 'n universiteit se joolkoningin.

En raai wat? Rita word die karnavalnooientjie en Lirpa een van die twee prinsesse.

Rita (middel) en Lirpa (links). Die prinsessie op regterhand is Ina Swanepoel
Aan die einde van daardie jaar het hulle die Nasionale Onderwysdiploma verwerf. Rita is vervolgens Natal toe om Huishoudkunde aan die Hoërskool Glencoe te doseer en Lirpa, Handelsvakke aan die Hoërskool Op 't Hof in Germiston.

In 1966 is Lirpa met 'n sakeman, Eddie Kuntz, getroud. Twee seuns en 'n dogter is uit hulle huwelik is gebore. Hulle het ook vier kleinkinders.

In 1966 het Rita 'n Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Dundee ontmoet by name Barry Vosloo. Die twee is in 1967 getroud en spog met twee seuns en vyf kleinkinders.

In 2013 het Barry en Rita 'n wooneenheid in Warmbad Renaissance gekoop.

En wie sou Rita na 49 jaar raakloop? Niemand anders nie as Lirpa wat sowat sewe jaar vantevore saam met Eddie hierheen getrek het.

Wie sê die wêreld is 'n groot plek?

Lirpa (links) het Rita (regs) het mekaar na 49 jaar weer in Warmbad Renaissance raakgeloop

1 comment:

  1. Wonderlike storie ! En hulle lyk nog net so mooi soos altyd.

    ReplyDelete