Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 28 May 2014

Annemike steel harte

Die oord se Sosiale Aksie onder leiding van Corrie Pretorius  het weer eens hulle bewese hoë standaard gehandhaaf toe hulle onlangs die Vrystaatse sanggroep Sampie en Nellie genooi het om die inwoners te vermaak.

Renaissancers is meegevoer deur die sangers se weergawe van ou gunstelinge soos Maggie, Droomvrou, You raise me up, ens.

Die Vrystaatse sangpaar, Sampie en Nellie
Maar die verrassing van die dag wat die gehoor se hartsnare aangeraak en menige inwoner 'n traantjie uit die oë laat pink het, was die talentvolle 8-jarige gaskunstenaartjie, Annemike du Preez. Dit was haar heel eerste openbare optrede.

Die gehoor was in vervoering met Annemike se liedjies, veral dié oor oupas en oumas wat sy spesiaal vir die oupas en oumas in die gehoor gesing het.

Annemike, die hartedief
Annemike is 'n graad 2-leerder aan die Laerskool Warmbad. Haar sangonderwyseres is Marga Roos van Warmbad.

Hierdie sjarmante dogtertjie se ouma, Lienkie Ellis woon reeds twee jaar in die oord.

Annemike en ouma Lienkie
Volgens Lienkie het Annemike haar sangtalent van haar ma, Nadia, geërf. Nadia was 'n lid van die koor van die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria. Later het sy ook in die NKP-dogterskoor gesing.

Annemike is 'n veelsydige dogtertjie. Sy speel vir haar skool se onder 8-mini-netbalspan en volg dramalesse. Hierbenewens beoefen sy die boogskietsport saam met pa Quentin.

No comments:

Post a Comment