Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 30 October 2013

Uit die argief

In 1991 skryf Isabel Hattingh: "Sang en musiek het 'n belangrike rol in ons samesyn gespeel. Heel toevallig en spontaan het ons een Sondagmiddag by Eppie [van Niekerk] begin sing en gou was die huis vol mense wat kom deelneem. Dít was seker die vonkie wat die latere sanggroep se ontstaan tot gevolg gehad het."

Die einste Eppie van Niekerk skryf later: "In 1992/1993 skenk Ina du Plessis die eerste klavier en toe word daar éérs gesing!"

Dié klavier het later glo die gees gegee en die bestuurskomitee het die aankoop van 'n splinternuwe klavier goedgekeur.

Mettertyd is 'n koor- en revue-groep onder leiding van Riëtte Botha op die been gebring.

"Hulle sing en dans vir die lekker," berig Die Pos op 16 September 1994, "en met baie energie en entoesiasme."

Vanaf 1994 tot 1998 verwerf die groep verskeie goue (A+) toekennings op die Waterberg Afrikaanse Kunsfees.

'n Beoordelaar lewer soos volg kommentaar oor die groep se aanbieding van Daar doer in die Bosveld: "Geluk met die mooi uitrustings! Dit skep 'n pragtige indruk! Hier is beslis hard en getrou gewerk. Julle gesigte het gestraal van die genot."

Renaissance se sang- en revue-groep in 1995
Ander optredes het gevolg, onder andere by die moeder- en dogterfunksie van die NG Moedergemeente, 'n teeparty vir bejaardes by die Wambad-landboutentoonstelling, by 'n musiekaand van die Sonskynfees en 'n lente-oggendtee by die damesklub van die Kokanje Aftree-oord op Nylstroom.

Bronne
  • Warmbad Renaissance 10, 'n gedenkblad wat in 2001 uitgegee is ter viering van die tiende bestaansjaar van Warmbad Renaissance.
  • Foto-album en aantekeninge saamgestel deur Willie van der Merwe. 

  • No comments:

    Post a Comment