Soek 'n berig in Renaissance
Friday, 10 January 2020
Wednesday, 1 January 2020
Oujaarsaand 2019
Inwoners wat met Jan Tuisbly se karretjie gery het,
het 2019 met die gebruiklike vleisbraaiery gegroet.
Die onderstaande foto’s bied ‘n oorsig van die
verrigtinge.
Monday, 30 December 2019
Die Waterberg: Twee ikone
Hierdie laaste artikeltjie oor die Waterberg beskryf twee
van die ikoniese persoonlikhede wat die streek oor die jare heen opgelewer
het, te wete adv. J G Strijdom en Eugène Marais.
![]() |
| Adv. J G Strijdom |
Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom is op 14 Julie 1893 op Klipfontein, distrik Willowmore, gebore. Hy het
later in die regte aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria gestudeer
voordat hy as prokureur op Nylstroom (Modimolle) begin praktiseer het.
In 1918 het adv. Strijdom afdelingsekretaris van die
Nasionale Party in die Waterberg geword en het die kiesafdeling vanaf 1929 tot
1958 ononderbroke in die parlement verteenwoordig.
Die rigsnoer van sy politieke denke was die verhouding
tussen Afrikaans- en Engelssprekendes, die taalregte van die Afrikaner, die
baasskap van die Blanke in eie gebied en die ekonomiese selfstandigheid van
Suid-Afrika. Dit alles moes lei na een einddoel: die Republiek van Suid-Afrika. Hy
was van 1954 tot sy afsterwe in 1958, die premier van die Unie van Suid-Afrika.
Buiten die politiek het hy sy liefde vir
boerdery uitgeleef op die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte en later op
die plaas Sandvlakte naby Bela-Bela waar hy saam met sy broer geboer
het.
Strijdom was getroud met Susan (née de Klerk). ʼn Seun en dogter is uit hulle huwelik gebore.
Hulle huis op Modimolle is
vandag ʼn museum en die Hoërskool
Hans Strijdom op Mookophong is na hom vernoem. Terloops, Skye Bester, Pieter en
Ria Bester (E107) se kleindogter, was in 2019 die hoofmeisie van hierdie skool.
![]() |
| Eugène N Marais |
Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore. Hy het in 1907 na die Waterberg
verhuis waar hy o.a. op die plaas Rietfontein geloseer het. Dié faset van sy
lewe is die onderwerp van die rolprent Die wonderwerker wat in 2012 op Suid-Afrikaanse
televisie vertoon is.
Marais was ʼn veelsydige, dog komplekse persoon. Hy was ʼn digter, joernalis,
advokaat, hipnotiseur, mediese dokter en natuurkundige.
Op Rietfontein doen hy indringend navorsing oor die gedrag
van wilde diere, waaronder bobbejane en miere in hulle natuurlike habitat.
Hierdie navorsing het later gelei tot die publikasie van die opsienbare Die
siel van die mier (1934) en The
soul of the ape (1969).
Maar dit is waarskynlik as digter waarvoor Marais die
langste onthou sal word. Hy was die skepper van die klassieke Afrikaanse gedig Winternag,
wat allerweë beskou word as die begin van die letterkundige poësie in
Afrikaans.
![]() |
| "Winternag" - in die digter se eie handskrif |
Marais het op 21 jarige ouderdom begin om morfien te
gebruik en sy lewe is gekenmerk deur 'n verbete stryd teen verslawing. Op 29
Maart 1936 het hy selfdood gepleeg.
Friday, 27 December 2019
Wanneer dit reën in die Bosveld
Wanneer
dit reën op Rietfontein
En deur die stof ‘n straal van groen verskyn,
Wanneer die wolke, swart en swaar belaai,
In voue oor die berge pak en swaai,
Dan sit oom Gysbert op die stoep alleen;
Hy asem sag die geur gemeng van stof en reën
En as jy net sy kalm gelaat bespreur,
Sou jy nooit dink iets wonderliks gebeur –
Dat daar ‘n jaar van knagend’ angs verdwyn,
Wanneer dit reën op Rietfontein.
Hierbo
is ʼn
uittreksel uit Wanneer dit reën op Rietfontein,
deur Eugéne Marais.
![]() |
| Eugene Marais, waarskynlik terwyl hy op Rietfontein in die Waterberg gewoon het |
Alhoewel ons dit
nie bo alle twyfel kon vasstel nie, het Marais dié gedig waarskynlik geskryf
terwyl hy op uitnodiging van Gys en Maria van Rooyen tussen 1908 en 1916 op
hulle plaas Rietfontein in die Waterberg gewoon het. Die Waterberg is as 't ware op ons voorstoep geleë.
Dié gediggie herinner sterk aan ons eie inwoners se
dankbare erkentlikheid teenoor ons Hemelse Vader vir die milde reënbuie wat in
die onlangse verlede in ons oord neergestuif het.
Volgens Neels Cornelius (E118) wat elke lewegewende
reëndruppel nougeset aanteken, het hy meer as 350 mm sedert die aanvang van ons
ietwat ongewone reënseisoen
gemeet en opgeskryf.
Berigte dui daarop dat die vlak van plaaslike damme reeds
noemenswaardig gestyg het. Nóg goeie nuus is dat die munisipale waterbeperkings
wat reeds in 2015 ingestel is, onlangs opgehef
is - aldus Andries van der Heyde, ʼn joernalis wat verbonde is aan die plaaslike Pos-koerant.
Friday, 6 December 2019
Oord verwelkom Ria Nel
| Ria Nel |
Ria Nel (66) het onlangs haar intrek in E74 geneem. Sy sê dat haar keuse
op hierdie eenheid geval het nadat sy omvattend navorsing gedoen het oor
aftreeoorde oral in die land. Ons webtuiste het geen geringe rol in haar
besluit gespeel nie. Sy is heel in haar noppies met ons oord omdat dit
grootliks aan haar behoeftes voldoen. Sy is voornemens om gou by
oordaktiwiteite betrokke te raak.
Ria is in Barberton gebore en getoë. Sy het in 1971 haar skoolloopbaan
aan die Hoërskool Barberton voltooi. Hierna het sy die Hugenote Kollege op
Wellington bygewoon waar sy in 1974 in die geesteswetenskappe gekwalifiseer
het.
Sedert 1975 tot haar uittrede in 2015 was sy
betrokke by die ontwikkeling van menslike potensiaal.
Na haar uittrede, verrig sy deeltydse werk ten
einde aan haar voorliefde vir die natuur, reis, buitelugaktiwiteite en ander
belangstellings voorkeur te gee.
Tuesday, 3 December 2019
Die Waterberg - Flora
Ná verlede maand se artikel oor die fauna wat in die Waterberg aangetref
word, kom die streek se flora (plantlewe) vandeesmaand ter sprake.
Alhoewel ʼn verskeidenheid bronne geraadpleeg is, is ons hoofbron die uitstekende
webtuiste met teks, kaarte, foto’s, ens. wat deur Warwick en Marlene Tarboton
van Modimolle behartig word. Die titel daarvan is Waterberg BioQuest/BioSoektog.
Dis onmoontlik om binne die bestek
van hierdie kort artikel reg te laat geskied aan die verstommende diversiteit
van die flora wat in die Waterberg aangetref word, veral as daar in ag geneem
word dat 271 boomspesies en meer as 1000 spesies wildeblomme reeds aangeteken
is. Weens die ontsaglike verskeidenheid kan ons uiteraard die fokus op slegs
enkele plantsoorte plaas.
Terloops, ons is heel opgetoë oor die
bekoorlike Afrikaanse benamings van sommige flora. Wat val nou mooier op die
oor as boomname soos tontelhout,
kierieklapper, raasblaar
en huilboerboon
of wildeblomname soos katpisbossie,
mooinooientjie, poprosie
en haaskos?
Alhoewel die kransaalwyn inheems aan die Waterberg is, kom dit
wydverspreid in Suid-Afrika voor en is
gewild as ʼn tuinplant. Die bitter sap van die blare is vroeër net deur
inheemse mense gebruik om ʼn verskeidenheid
kwale te genees. Volgens een van Kwêvoël se
bronne het die sap na die Tweede Wêreldoorlog ʼn rol gespeel in die behandeling van Japannese atoombomslagoffers.
![]() |
| Die kransaalwyn (Foto: Warwick Tarboton) |
Die nektar van die bitterbos is vir skoenlappers onweerstaanbaar. Dié
plant word deur inheemse mense as medisyne gebruik. Hulle droog die blom ook
uit, maal dit fyn en gebruik dit as lekkerruikbabapoeier.
![]() |
| Die bitterbos (Foto: Onbekend) |
Die poerabessie waarvan ten minste een in ons oord voorkom, dra
onwelriekende dog eetbare bessies. Inheemse mense maak ʼn spinasie-agtige dis van die jong blare.
| Die poerabessie (Foto: Barry Vosloo) |
Die Suurpruimboom word ongeveer 10 m hoog en dra eetbare vrugte waarvan
rooswyn en jellie gemaak kan word. Dit lok ook vrugtevretende voëls soos
loeries, tiptolle, spreeus ens. Die wildepruim is gewild by
bonsai-geesdriftiges.
![]() |
| Die suurpruimboom (Foto: Onbekend) |
Thursday, 28 November 2019
2020-bestuurskomitee, Warmbad Renaissance-aftreeoord.
Subscribe to:
Posts (Atom)







