Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 22 April 2019

Die geskiedenis van ons dorp - Die legende van Buyskop

Ons het voorheen die historiese skakel tussen ons dorp en die Slag van Bloedrivier beskryf. Klik HIER om toegang te verkry.

Vandeesmaand vertel ons van die skakel tussen tussen Bela-Bela en die Langkloof in die Oos-Kaap waar Coenraad de Buys in 1761 op ‘n plaas naby Kareedouw gebore  gebore is. Die Langkloof is sowat 1 350 km. vanaf Bela-Bela.

Coenraad de Buys se geboorteplek
Die flapteks van Willem Anker se roman Buys, ʼn eerstepersoonvertelling, beskryf Coenraad de Buys soos volg: “Vanaf die Langkloof swerf die legendariese Buys deur die onrustige landskap van die laat sewentienhonderds. Hy is trekboer, grootwildjagter, Koning van die Basters, sewevoet-rampokker, veelwywer en pes van die owerheid. Oral verwek hy kinders [volgens oorlewering sowat 315]; oral sluit rowers en weglopers by hom aan – ʼn ganske Buysvolk. Hy steel vee en vroue, smokkel gewere, sweep grensboere op teen die VOC en al wat Empire is.”

Coenraad de Buys
In die vroeë negentiende eeu bevind hy en sy meelopers hul in ʼn gebied wat hulle bekoor. “Ons [sien] ʼn stoomwolk uit die aarde oprys in ʼn kokende moerasland oortrek met palmiet. Die berge is fraai hier, groot en blou en oral.”

Dié plek sou later bekend staan as Bela-Bela.

Getrou aan hul aard, het konflik gou tussen De Buys-hulle en die Tswanas ontstaan sodat eersgenoemde moes vlug, “op teen ʼn spits koppie wat in die veld lê soos ʼn duttende leeu. Ons klouter teen die agterlyf, tussen die skouers voort en dan steiler op, deur die ruie maanhare van bos tot by die bonkige kroon. Hul grote ontsag vir ons vuurstokke se donderwerk hou hulle weg van die kop af. Op die sewende dag is ons sonverbrand en sat. Die laaste druppel water is reeds ʼn dag gelede gedrink en van reën is daar geen sprake nie.” Namate hulle water opgeraak het, het De Buys-hulle hul urine in hul watersakke opgegaar.


Die "spits koppie wat in die veld lê soos ʼn duttende leeu"
Op die agtste dag van die beleg staan De Buys op ʼn krans en “bulder ʼn brul op hulle neer. Ek skree dat ek oor toorkragte beskik; dat ek water kan maak hierbo. Ek stort twee watersakke vol urine teen die steilte af. Die swartes swyg. Dan hardloop hulle.”

Dié kop heet deesdae Buyskop.

De Buys en sy volgelinge het mettertyd noordwaarts getrek tot by naby Louis Trichardt waar hulle Buysdorp gestig het. Sy nakomelinge woon vandag nog daar. De Buys is in 1821 oorlede.


Nakomelinge van Coenraad de Buys woon op Buysdorp naby Louis Trichardt
Ander gebeure met betrekking tot Buyskop het ook geskiedkundige waarde. Dié rotsformasie was vroeër die halfpadmerk van die historiese poskoetsroete tussen Pretoria en Pietersburg wat tans as Polokwane bekend staan. Daar is ook grafte wat uit die Groot Trek dateer.

Die kop is ook daarvoor bekend dat die sandsteen wat vir die oprigting van die Uniegebou in Pretoria gebruik is hiervandaan kom.

No comments:

Post a Comment