Ons het
voorheen die historiese skakel tussen ons dorp en die Slag van Bloedrivier
beskryf. Klik HIER om toegang te verkry.
Vandeesmaand
vertel ons van die skakel tussen tussen Bela-Bela en die Langkloof in die Oos-Kaap
waar Coenraad de Buys in 1761 op ‘n plaas
naby Kareedouw gebore gebore is. Die Langkloof is sowat 1 350
km. vanaf Bela-Bela.
|
Coenraad de Buys se geboorteplek |
Die flapteks van Willem Anker se roman Buys, ʼn
eerstepersoonvertelling, beskryf Coenraad
de Buys soos volg: “Vanaf die Langkloof swerf die legendariese Buys deur die
onrustige landskap van die laat sewentienhonderds. Hy is trekboer,
grootwildjagter, Koning van die Basters, sewevoet-rampokker, veelwywer en pes
van die owerheid. Oral verwek hy kinders [volgens oorlewering sowat 315]; oral sluit rowers en weglopers by hom aan – ʼn ganske Buysvolk. Hy steel vee en vroue, smokkel gewere, sweep grensboere op teen die VOC en
al wat Empire is.”
|
Coenraad de Buys |
In die vroeë
negentiende eeu bevind hy en sy meelopers hul in ʼn gebied wat hulle bekoor. “Ons [sien] ʼn stoomwolk uit die aarde oprys in ʼn kokende moerasland oortrek met
palmiet. Die berge is fraai hier, groot en blou en oral.”
Dié plek
sou later bekend staan as Bela-Bela.
Getrou aan hul
aard, het konflik gou tussen De Buys-hulle en die Tswanas ontstaan sodat eersgenoemde
moes vlug, “op teen ʼn spits koppie wat in die veld lê soos ʼn duttende leeu. Ons klouter teen die
agterlyf, tussen die skouers voort en dan steiler op, deur die ruie maanhare
van bos tot by die bonkige kroon. Hul grote ontsag vir ons vuurstokke se
donderwerk hou hulle weg van die kop af. Op die sewende dag is ons sonverbrand
en sat. Die laaste druppel water is reeds ʼn dag gelede gedrink en van reën is
daar geen sprake nie.” Namate hulle water opgeraak het, het De Buys-hulle hul
urine in hul watersakke opgegaar.
|
Die "spits koppie wat in die veld lê soos ʼn duttende leeu" |
Op die
agtste dag van die beleg staan De Buys op ʼn krans en “bulder ʼn brul op hulle neer. Ek skree dat ek
oor toorkragte beskik; dat ek water kan maak hierbo. Ek stort twee watersakke
vol urine teen die steilte af. Die swartes swyg. Dan hardloop hulle.”
Dié kop heet
deesdae Buyskop.
De Buys en sy volgelinge het mettertyd noordwaarts
getrek tot by naby Louis Trichardt waar hulle Buysdorp gestig het. Sy
nakomelinge woon vandag nog daar. De Buys is in 1821 oorlede.
|
Nakomelinge van Coenraad de Buys woon op Buysdorp naby Louis Trichardt |
Ander gebeure met betrekking tot Buyskop het ook geskiedkundige waarde.
Dié rotsformasie was vroeër die halfpadmerk van die historiese poskoetsroete
tussen Pretoria en Pietersburg wat tans as Polokwane bekend staan. Daar is ook
grafte wat uit die Groot Trek dateer.
Die kop is ook daarvoor bekend dat die sandsteen wat vir die oprigting
van die Uniegebou in Pretoria gebruik is hiervandaan kom.