Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 28 February 2019

Ons verwelkom Lettie Roode

Lettie Roode het onlangs haar intrek in E62 geneem. Sy is 75 jaar gelede op Waterval-Boven gebore en het op ʼn plaas tussen Belfast en Lydenburg grootgeword.

Lettie Roode
Nadat sy aan die Pretoriase Tegniese Kollege gematrikuleer het, het sy die werksomgewing van finansiële administrasie betree.

Sy en Daan Roode is in 1970 op haar geboortedorp getroud. Een dogter en twee kleinkinders, wat tans in Nieu Zeeland woon, is uit hulle huwelik gebore. Daan het haar in 1987 ontval.

Lettie het verskeie aftreeoorde in Pretoria oorweeg voordat haar keuse op ons oord geval het. Ons webtuiste het hierin ʼn deurslaggewende rol gespeel. Op Kwêvoël se vraag waarom sy besluit het om haar in Warmbad Renaissance te vestig, het sy onomwonde gesê dat bekostigbaarheid, die goedversorgde terrein in ʼn pragtige omgewing en die feit dat haar suster in Soetdoringpark woon, die deurslag gegee het. Boonop voel sy gekoester hier omdat die inwoners wat sy tot dusver ontmoet het, vriendelik en hulpvaardig is.

Lettie is ʼn geesdriftige tuinier. Terwyl sy en Daan in Nelspruit gewoon het, was sy by die plaaslike botaniese tuin werksaam waar sy haar liefde vir tuinmaak ten volle uitgeleef en boonop haar tuinbouvaardighede ontwikkel het.

No comments:

Post a Comment