Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 26 February 2019

Die geskiedenis van ons dorp - Ontwikkeling van die onderwys

Hierdie beriggie is die derde van ʼn reeks wat die geskiedenis van ons dorp onder die loep neem.

Ons het onlangs deur bemiddeling van Gerhard van Rooyen (E92)met ʼn dinamiese inwoner van ons dorp kontak gemaak. Sy is Lize Coetzee wat ʼn geruime tyd lank skoolgehou het, onder andere by die Laerskool Warmbad.

Lize Coetzee
Lize het in 2002 intensiewe navorsing oor die ontwikkeling van die onderwys in Bela-Bela gedoen. Haar bevindings het onder meer neerslag gevind in die Laerskool Warmbad se eeufeesblad wat in 2003 gepubliseer is.

Sy het vasgestel dat georganiseerde onderwys reeds vanaf Julie 1851 in die ongewing plaasgevind het. Tussen 1896 en 1899 was daar twintig plaasskole, twee dorpskole en agt wykskole met ʼn leerlingtal van 190.

Plaasskole was noodsaaklik omdat afstande tussen die dorp en die plase in die omgewing groot was. Dit was hoofsaaklik die dorpskinders wat die dorpskole bygewoon het.

Inspeksieverslae dui daarop dat die gehalte onderwys baie swak was. Die meeste onderwysers was ongekwalifiseer.

Die voorganger van die laer- en hoërskool op die dorp was die Warmbaths Government School. Dié skool het sy ontstaan op 19 Oktober 1903 in ʼn klein tweevertrekhuisie van hout en sink in Reitzstraat gehad.

Omdat die Warmbaths Government School direk ná die Anglo-Boereoorlog gestig is, was die voertaal aanvanklik Engels. Daar was minder as 30 leerlinge en twee onderwysers in die skool.

In 1909 is die skool as ʼn Hollandsmedium skool hergeklassifiseer en teen 1944 het dit 461 leerlinge in beknopte omstandighede gehuisves. Dit het daartoe gelei dat die laer- en hoërskool in 1947 amptelik van mekaar geskei is.

Laerskool Warmbad-skoolwapen
Hoërskool Warmbad-skoolwapen
ʼn Skool vir Engelssprekende kinders is in 1922 op die plaas Driefontein, naby Naboomspruit, gestig. Dié skooltjie het sy deure in 1931gesluit en verskuif na die huidige skoolgebou op Settlers. Dit sou voortaan bekend staan as die Lord Milner School.

Lord Milner School- skoolwapen
Die Settlers Agricultural High School is in Januarie 1969 gestig. Dit was destyds die enigste Engelsmedium-hoërskool in die voormalige Transvaal wat landbou as vakrigting aangebied het.

Settlers Agricultural High School-skoolwapen
Terloops, ʼn oudinwoner van ons oord, Brian Stone, het hom destyds beywer vir die stigting van dié skool terwyl hy die voorsitter van Lord Milner School se ouerkomitee was. Brian is onlangs op 98-jarige ouderdom oorlede.

Brian Stone

No comments:

Post a Comment