Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 22 September 2018

Só het ons oord ontwikkel (4)

Soos voorheen vermeld, beoog ons om in die volgende paar maande stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

Die inskrywings van die notules word onveranderd aangehaal. Die teks tussen vierkantige hakies is byvoegings ter verduideliking.

Op 4 Februarie 1993 berig die notule van die algemene jaarvergadering soos volg: “Die voorsitter [oorlede Henry van Niewenhuizen] bedank mevv. Lora v.d. Merwe en Alice Geldenhuys vir hulle harde werk om alles in die biblioteek gereed te maak vir gebruik. Die amptelike opening van die Biblioteek vind plaas op Maandag 7 Februarie 1993 by wyse van ʼn geselligheid om 14:30.”

Lora van der Merwe en Alice Geldenhuys
Selfs Die Pos het ʼn berig daaroor geplaas: “Renaissance op Warmbad spog nou met sy eie biblioteek. Boeke word verskaf deur die dorpsbiblioteek en heelwat boeke is ook deur inwoners aan die biblioteek geskenk. ʼn Beroep is op inwoners gedoen om die biblioteek te ondersteun om te verseker dat die diens voortgesit word.”

Ons huidige bibliotekaris, Hester Botes, het die biblioteek jare lank in beknopte vertrekkies in die administrasiegebou bedryf.

Hester Botes
In 2015 het die bestuurskomitee egter geld bewillig om die bestaande biblioteek uit te brei. In 2016 is ʼn muur tussen twee vertrekke langs die voorsitter van die bestuurskomitee se kantoor verwyder. Die boekrakke is onder leiding van Louis van Wyk aangebring. Louis het toentertyd die onderhouds-portefeulje behartig. Hy het intussen na Palms Renaissance verhuis.

Louis van Wyk
Hester bedryf die biblioteek tans met die hulp van Anne Sadler en Miriam en John Scheepers (foto regs onder). Die boekvoorraad het aangegroei tot sowat 6 000 Afrikaanse en Engelse boeke – hoofsaaklik weens ruim skenkings deur inwoners.

V.l.n.r. verskyn Anne Sadler, Miriam Scheepers en John Scheepers
Hester en haar helpers lewer 'n gewaardeerde diens aan die inwoners van ons oord. Ons sê namens almal baie dankie vir die harde werk wat hul sonder vergoeding doen.

No comments:

Post a Comment