Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday 21 June 2018

Só het ons oord ontwikkel (1)

Ons beoog om in die volgende paar maande stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

As ʼn mens terugdink aan die ontstaan en ontwikkeling van ons oord oor nagenoeg 27 jaar, móét ons erkenning gee aan diegene wat Warmbad Renaissance gebou het.

Daarom is ons van oordeel dat inwoners gerus kan kennis neem van die bouvoormanne wat die bouwerk sedert voor en na 1991 behartig het.

Die huidige ontwikkelaar van ons oord en direkteur, Warmbad Renaissance (Edms) Bpk. Werner Pauw, het oor die jare heen ʼn deurslaggewende rol vervul. Sy naam verskyn die eerste keer in die notule van die bestuurskomiteevergadering gedateer 2 September 1993. Par. 13 verwys na hom as ʼn regsadviseur wat uitgenooi sal word om die bestuurskomitee in te lig oor nuwe wetgewing wat bepaal hoe die bestuur van die oord in die toekoms behartig gaan word.

Werner Pauw
WERNER PAUW skryf: Aangesien Warmbad Renaissance in fases ontwikkel het, was daar oor die jare heen verskeie bouvoormanne betrokke.

Gerhardt van Rensburg, ʼn plaaslike boukontrakteur, was as buitestaander betrokke by die oprigting van sommige van die eenhede. Sy pa is Coen van Rensburg wat tans in E77 woon.

Uit ons geledere was daar met verloop van tyd hoofsaaklik drie bouvoormanne.

Oom Gert de Waal was die tradisionele, ou-generasie bouvoorman wat min nonsens geduld het. Hy is in ongeveer 2000 oorlede.

Hy is opgevolg deur oom Piet Badenhorst wat op dieselfde manier as oom Gert te werk gegaan het en sy werk sonder omhaal van woorde  gedoen het.  Hy is reeds in 2005 oorlede.

Daarna was Gert Kruger by die oord betrokke, maar nie met die bou van nuwe eenhede nie. Sy taak was om bestaande eenhede gereed te kry sodra dit herverkoop is. Gert het in 2017 afgetree en woon tans in Vredenburg.

Gert Kruger
Inwoners ken waarskynlik ook vir Willie Nkosi wat van Warmbad afkomstig is en die oord soos sy handpalm ken.  Hy en sy span word hoofsaaklik gebruik om by die verkoop van die sogenaamde lewensregeenhede op deeltitel vir die kopers op te knap.

Willie Nkosi
Nog ʼn legende wat goed deur die eerste inwoners onthou sal word, is die verkoopsagent Lettie van Rooyen wat vanuit een van die leë eenhede gewerk het.  As jy iets van die oord of sy mense se doen en late wou weet, kon jy maar net vir Lettie vra …

No comments:

Post a Comment