Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Sunday 24 April 2016

Kwarteeufeesviering

Alhoewel die eerste inwoners hulle reeds op 1 April 1991 hier tuisgemaak het, het die amptelike viering van ons oord se 25ste bestaansjaar eers op 22 April 2016 plaasgevind.

En wás dit nie ‘n fees nie.

Tien potjiemakers hulle vroegdag op die grasperk voor die administrasiegebou tuisgemaak. Gou het die watertandgeure van die skaapskenkel-, beesstert-, hoender-, skaapnek-, beeskenkel- en varkpotjies ander inwoners na die terrein gelok. Toe word daar sommer dik stukke gekuier ook.

Laatmiddag het inwoners en oud-inwoners hul skrede na die gemeenskapsaal gewend om ‘n gratis gedenkblad te ontvang, ‘n kort huldigingsprogram by te woon, die potjies te toets en gemoedelik te verkeer.

Hoe later, hoe kwater. Die inwoners het mettertyd nostalgies geraak oor hierdie plek in die Bosveld waar hulle rustig en waardig en veilig ouer kan word; waar mense opreg, vriendelik en gasvry is; wat spog met ‘n groot verskeidenheid inheemse bome en voëls en terrein netjies versorg word; waar kleinvolk soos gebande muishonde, nagapies, bloukopkoggelmanders en eekhorinkies ongehinderd kan rondbeweeg; waar die onbesoedelde lug soms soms vaagweg na houtrook en hooi en dou ruik.

Die foto’s hieronder laat kwalik reg geskied aan ‘n uitsonderlike geleentheid.

Die watertandgeure van skaapskenkel-, beesstert-, hoender-, skaapnek-, beeskenkel- en varkpotjies dwarrel lui die soel herfslug in.
Potjiemaak en kuier is as 't ware sinoniem. Dimmie Smith, Francois du Toit en Koos Grobler stem saam.
Opskeptyd
Smultyd
Die nagereg
Die ontwikkelaar, Werner Pauw, vertel onderhoudend hoe die oord ontstaan het.
Reanett Bezuidenhout tree later vanjaar uit nadat sy 25 jaar lank ononderbroke die oord se bestuursagent was. Ampie Hattingh oorhandig ‘n klein blykie van die inwoners se waardering aan haar. Ampie en Isabel was die heel eerste intrekkers wat hulle op 1 April 1991 hier tuisgemaak het.

No comments:

Post a Comment