Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 12 February 2016

Bekostigbaarheid van Warmbad Renaissance lok die Du Toits hierheen

Die 67-jarige Francois en Rina (68) du Toit het 27 jaar lank op Delmas gewoon voordat hulle onlangs hulle intrek in E98 geneem het.


Francois en Rina du Toit
Voor hulle aftrede was Francois die bestuurder van kwaliteitsversekering- en beheer (Quality Assurance & Control) by die konstruksiemaatskappy, Murray & Roberts. Sy werk het dit van hom vereis om gereeld in Suid-Afrika en elders in Afrika te reis. Rina was etlike jaar lank die lone-administrateur (Payroll Administrator) by die BHP Billiton-myngroep op Delmas. 
 
Rina het op Balfour grootgeword en aan die Hoërskool Balfour gematrikuleer. Francois is op Springs gebore en het sy skoolloopbaan aan die Tegniese Hoërskool op Brakpan voltooi.
 
Francois en Rina is reeds 45 jaar getroud. Hulle het twee kinders en 3 kleinkinders. Die kleinkinders woon saam met hulle ouers in die VSA. Oupa en Ouma se harte trek uiteraard 'n punt daarheen al het hulle reeds dikwels oor en weer gekuier. Soos sovele Suid-Afrikaanse oupas en oumas moet hulle hulle maar verlaat op Skype om in verbinding te bly.
 
Op die vraag waarom hulle juis op óns oord as 'n woonplek besluit het, sê hulle dat hulle talle opsies in hierdie geweste en in Pretoria oorweeg het voordat die bekostigbaarheid van Warmbad Renaissance die deurslag gegee het. Hierbenewens geval die klimaat, veiligheid, rustigheid (geen honde nie!), mooi terrein en vriendelike mede-inwoners hulle. Hulle voel reeds tuis.
 
Die Du Toits sê dat hulle graag hulle vaardighede tot voordeel van die oord wil aanwend. Francois het uitgebreide kennis en ervaring in die konstruksiebedryf opgedoen, terwyl Rina op Delmas by gemeenskapsdiens betrokke was.

No comments:

Post a Comment