Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 10 July 2015

Treuburg. Königsberg. Schleswig-Holstein. Bonn. Bela-Bela

Dr. Urte Daiber (Eenheid 29) is 'n gesellige, positiewe persoon wat onderhoudend vertel van haar lewenservaring wat strek van haar Oos-Pruisiese geboortedorp, Treuburg, tot by Warmbad Renaissance, Bela-Bela. Treuburg en omgewing is na die tweede wêreldoorlog by Pole ingelyf.

Urte Daiber
Urte is in 1925 gebore. Sy en haar gesin het later na die skilderagtige Königsberg verhuis. Na die tweede wêreldoorlog is die stad deur die Sowjetunie geannekseer en hernoem tot Kaliningrad.

Sy haar skoolloopbaan in Königsberg voltooi. Alhoewel sy graag praktiese ondervinding in die aptekerswese wou opdoen, is sy en alle skoolverlaters deur die staat verplig om twee jaar lank voltydse Reichsarbeitsdienst te verrig. Dit was toentertyd in die lewe geroep om, onder andere, gemeenskapsdiens te lewer.

Jong Duitse vroue lewer Reichsarbeitsdienst
Met slegs 'n paar items wat hulle kon saamdra, was sy en haar ma genoodsaak om inderhaas in 1945 in snerpende winterkoue weswaarts voor die oprukkende Russiese leër uit te vlug (klik HIER om te lees waarom hulle gevlug het) voordat hulle 'n heenkome in Schleswig-Holstein, Noordwes-Duitsland, gevind het. Hier het sy 'n geruime tyd lank as 'n huisbediende gewerk om siel en liggaam aanmekaar te hou.

Na afloop van die tweede wêreldoorlog het Urte na Bonn vertrek waar sy aan die Rheinische Friedrich-Wilhelms-Universität gestudeer het en uiteindelik 'n doktorsgraad in die landbouwetenskappe behaal het.


Die hoofgebou van die Rheinische Friedrich-Wilhelms-Universität in Bonn
Sy en dr. Klaus Deiber, 'n universiteitsliefde, is in 1957 getroud. 

In 1959 het die egpaar met die Braemar Castle na Suid-Afrika vertrek waar Klaus 'n werkskontrak met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye gehad het. Hulle het hulle in Pretoria gevestig waar hulle dadelik tuis gevoel het.

Urte bewaar steeds die identiteitskaart wat ingevolge die Wet op Vreemdelinge deur die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake aan haar uitgereik is.

Die identiteitskaart wat in 1959 deur die Suid-Afrikaanse Departement van Binnelandse Sake aan Urte uitgereik is
Die Daibers se kinders, Michael en Dorothea, is in Pretoria gebore. Later het Michael en sy vrou hulle twee kleinkinders gegee. Klaus het later 'n pos by die WNNR beklee en Urte het haar ten volle in die rol van tuisteskepper begewe. Nadat die kinders hulle skoolopleiding voltooi het, het sy 'n pos by die Dept. van Landbou, Bosbou en Visserye aanvaar.

Nadat hulle in 1990 afgetree het, het hulle Suid-Afrika platgereis. Soms het hulle ook toere na Rusland, Pole en Duitsland onderneem om familie te besoek.

In 2002 het die Daibers hulle in Warmbad Renaissance gevestig. Klaus het haar in 2010 ontval.

Hierdie foto van dr. Klaus Deiber is geneem kort voordat hy in 2010 oorlede is
Urte het gewis 'n veelbewoë lewe gehad wat haar vreugde en hartseer in oormaat besorg het. Nogtans sluit sy haar vertelling af met die woorde wat hierdie merwaardige vrou se persoonlikheid in 'n neutedop saamvat: "I have had an ordinary but happy life."

No comments:

Post a Comment