Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 29 March 2014

Oord kry eersdaags watermeters

Die vermorsing van water was sedert die ontstaan van die oord ‘n groot bron van kommer. 

Sommer in eerste uitgawe van ons nuusbrief in Junie 1996, verskyn 'n berig waarin die Bestuurskomitee "met spyt moet aankondig dat heffings vanaf 1 Augustus 1996 verhoog moet word."

Die verslag vervolg in Engels: "The inevitable increase has further been brought about by the astronomical increase in water consumption since January of this year."

Die oormatige natlei van tuine en grasperke het oor die jare heen dikwels tot maatreëls aanleiding gegee om water te bespaar. Die sukses daarvan was egter beperk omdat dit aangewese was/is op die samewerking van die inwoners - iets wat nie noodwendig verkry is nie.

Die afgelope sowat twintig jaar het ons by Warmbad Renaissance geleer dat die heffing wat ons vir water betaal wesenlik 'n gebrekkige (flawed) stelsel is. Alle inwoners betaal dieselfde heffing wat gebaseer word op die vloeroppervlakte van die eenheid; diegene wat op waterbesparing ingestel is sowel as die kwistige gebruikers. Die waterbespaarders subsidieer dus in der waardheid diegene wat hulle grasperke en tuine met sproeiers natgooi asof water gratis is.

Maar die situasie is vinnig aan 't verander.

Tydens 'n Spesiale Algemene Vergadering op 27 Maart 2014, het die vereiste meerderheid van die teenwoordiges ten gunste van die installering van watermeters gestem.

'n Kontrakteur sal eersdaags begin om watermeters by elke eenheid te installeer.

Na voltooiing van die projek sal inwoners soveel water kan gebruik as wat hulle kan bekostig.

No comments:

Post a Comment