Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 12 March 2014

Só bespaar 'n tuinier water in die Bosveld


Die skrywer van hierdie artikel, Piet Combrink
"Van vandag af begin ons in die aarde se natuurlike kapitaal delf," het die Wêreldnatuurfonds (WWF) in ‘n verklaring gesê wat verlede jaar in Beeld gepubliseer is.

Die WWF noem dit “Earth overshoot day” (EOD) – dié dag wanneer die mensdom soveel van die hernubare natuurlike hulpbronne van die aarde opgebruik het as wat die planeet in ‘n jaar kan genereer.

Volgens dr. Morné du Plessis, uitvoerende hoof van die WWF, leef die gemiddelde mens in S.A. asof daar ‘n bykomende planet is wat gebruik kan word. Woude, landbougrond en biologiese diversiteit word vernietig en varswaterhulpbronne is besig om te verdwyn.   Suid-Afrikaners gebruik 50% meer natuurlike hulpbronne as wat die aarde kan voorsien.

Een van die sake wat Renaissance-inwoners moet aaspreek, is die kwessie van waterbesparing. Daar is nie noodwendig ‘n verband tussen die grootte van ‘n tuin en die hoeveelheid water wat gebruik word om dit nat te lei nie.  Henry en Toy van Nieuwenhuizen (#25) en ek het ‘n inheemse tuin op ‘n plaas naby Vaalwater besoek wat sekerlik die grootte van ongeveer twintig van ons tuine is, maar wat geen besproeїng behalwe reën ontvang nie.

Gaan ry maar in ons omgewing rond en kyk na die pragtige Bosveldbome wat slegs van reën afhanklik is en wat die strafste droogtes o.a. van die dertiger- en sestigerjare, oorleef het.

Die oord wemel van Bosveldbome wat slegs van reën afhanklik is
Ek wil graag hieronder ‘n paar uittreksels uit die literatuur aan u voorhou.

Lok voëls na jou tuin deur Roy Trendler en Lex Hes.
“ Inheemse plante is dikwels in staat om uiterste toestande te oorleef en sal nog steeds staan as die meeste uitheemse soorte reeds gevrek het.  Dit is omdat hulle oor eeue aangepas het by die klimaatstoestande van die streek.  Daarom is dit baie sinvol om inheemse plante te gebruik eerder as waterliewende uitheemse soorte.

Een van die kwaaiste punte van kritiek van bewaringsbewustes teen private tuine is dikwels dat sulke enorme hoeveelhede water nodig is om die meeste stadstuine aantreklik te hou.

Inheemse plante het aansienlik minder water nodig en die goedbeplande versameling van water bv. opgaartenks, maak die tuin minder afhanklik van kraanwater”.

Plant inheems, betree die kring, Beeld, 18 Januarie 2013
Hepplewhite van die Witkoppen Wildflower Nursery, sê: “Inheemse plante is goed aangepas by die omgewing waar hulle natuurlik voorkom.  Dit is nie nodig om hulle te pamperlang nie; hulle is droogtebestand.  Hulle het oor duisende jare saam met voëls en insekte geëvolueer en bevorder die biodiversiteit van die gebied”.

Hierdie rotstuin wat deur Piet aangelê is, is 'n klinkklare bewys dat dit nie nodig is om inheemse plante te pamperlang nie; hulle is droogtebestand  
Daar is ook bykomende maatreëls om water te bespaar soos o.a. die gebruik van reënwatertenks, om nie op die hitte van die dag nat te gooi nie en dan is ‘n uiters belangrike faktor, die gebruik van deklae.

’n Deklaag is goed vir omgewing, Beeld, 30 Januarie 2010
“ ‘n Deklaag in beddings is ‘n voorbeeld hoe water bespaar kan word. Die lug in die organiese laag is ‘n swak geleier van hitte en dien dus as buffer tussen die warm lug in die atmosfeer en die koeler lug in die grond.  Verdamping word dus aansienlik minder. Dit hou plantwortels koel, beheer onkruid, verminder koue skade en beskerm erdwurms en miljoene mikro-organismes.

Met behulp van 'n deklaag word die organiese material omskep in humus wat die vrugbaarheid en die grond se waterhouvermoë verhoog.

En natuurlik is die aanlok van voëls waar hulle tuis is in hul natuurlike habitat, 'n bonus vir die inheemse tuin."

Gardening with birds, Tom Spence
“When considering the other factors which bring rural birds to your garden, we must conclude that vegetation is of prime importance: weaving your garden into a matrix of indigenous trees with the minimum of tree cutting is the ideal starting point.  Replacement of undergrouth with indigenous shrubs and creepers of your choice is the next phase."

Die inheemse plantegroei in die oord lok onder andere kwêvoëls
Die gevolgtrekking waartoe ek kom is dat inheemse Bosveldtuine die grootste enkele faktor is om aansienlik minder water te gebruik.  Ek dink nie bewaringsbewustes wat graag water wil bespaar kan langer finansiële verantwoordelikheid aanvaar vir diegene wat nie omgee hoeveel water hulle vermors nie.

Kortom, waterbesparing is ononderhandelbaar.

[Piet en Amy Combrink woon in #6. Piet, 'n afgetrede boer van Thabazimbi en passievolle bewaringsbewuste, is 'n lid van die oord se interne tuindiens-driemanskap. Die ander twee is Bets de Jager en Isabel Hattingh. Hulle sorg dat die oord se parkagtige terrein deurlopend mooi vertoon - Red.] 


No comments:

Post a Comment