Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 9 January 2023

Ontmoet die Voorsitter van ons Bestuurskomitee


Wessie van der Westhuizen dien tans in sy derde termyn as Voorsitter van die   Warmbad    Renaissance-bestuurskomitee. Die doel van hierdie vertelling is om hom en Magda weer eens voor te stel aan ouer inwoners, asook diegene wat hulle nie goed ken nie.

Wessie (69) en Magda (63) het in 2018 hul intrek in E120 geneem. Hulle het dié eenheid in 2013 aangeskaf met die oog op hulle uiteindelike aftrede aan die einde van 2017. Intussen het hulle dit verhuur terwyl hulle op die perseel van die Mabula Game Lodge naby Bela-Bela gewoon het. Wessie was sedert 1999 daar as ʼn assistant-reservaatbestuurder werksaam.

Magda is op Uitenhage gebore en het later saam met haar ouers na Bloemfontein verhuis waar sy grootgeword het. Sy het in 1977 haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Prinshof in Pretoria voltooi.  Hierna het sy ʼn diploma in sekretariële werk aan die Bloemfonteinse Tegniese Kollege behaal. Sy het vervolgens hoofsaaklik algemene kantoorwerk vir verskeie tandartse behartig.

Wessie is op Aroab in Namibië gebore en het op die familieplaas tussen Aroab en Keetmanshoop grootgeword. Hy het matriek in 1970 aan die Hoër Tegniese Skool Upington behaal. Hierna het hy by die Tegniese Dienskorps van die Suid-Afrikaanse Weermag in diens getree. In 1979 het hy sy ontslag met die rang van luitenant geneem. Hierna het hy buite Lückhoff in die Vrystaat gaan boer.

Wessie en Magda is in 1991 getroud nadat sy eerste eggenote oorlede is. Magda beskou Wessie se twee kinders en twee kleinkinders as haar eie. Hulle seun woon en werk in die VSA terwyl hulle dogter en haar wederhelf in die Midde-Ooste werksaam is. Wessie het Magda onlangs met groot waardering bestempel as iemand wat “so baie keer die weerligafleier [is] wanneer ek so bewolk is.”

Dié gemoedelike egpaar het van meet af aan by oordaktiwiteite betrokke geraak en het groot waar-dering vir die vriendelike en behulpsame inwoners van Warmbad Renaissance.

No comments:

Post a Comment