Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 2 March 2021

Oord verwelkom Herman en Antoinette le Roux

 

Herman en Antoinette le Roux

Herman (75) en Antoinette (75) le Roux is gebore en getoë Vrystaters wat onlangs hulle intrek in E48 geneem het nadat hulle verskeie aftreeoorde elders in die land oorweeg het.

Hulle is gaande oor ons plattelandse Bosveldlandskap, goedversorgde oord met sy vriendelike inwoners en die feit dat hulle kinders, kleinkinders en ander familie in Pretoria en Johannesburg woonagtig is. En as die verlange na hulle seun en dié se gesin in Perth, Australië groot word, is hulle binne maklike bereik van ʼn internasionale lughawe.

O ja, hulle is versot op woonwavakansies!

Antoinette is op Clocolan gebore. Nadat sy in 1963 aan die Hoërskool Clocolan gematrikuleer het, is sy na die Bloemfonteinse Onderwyskollege waar sy ʼn diploma in pre-primêre onderwys behaal het. Antoinette het groot deernis met gestremde kinders met die gevolg dat sy tien jaar lank by die Lettie Fouché Skool vir verstandelik erg gestremde kinders in Bloemfontein gewerk het. Sy het in 2002 afgetree as die hoof van ʼn privaat pre-primêre skool in Bloemfontein.

Herman is op Breyten gebore, maar het op Marquard grootgeword waar hy in 1963 aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer het. Nadat hy grade aan die Universiteite van Bloemfontein en Port Elizabeth behaal het, het hy in 2006 as ʼn professor in wiskunde aan die Universiteit van die Vrystaat afgetree.

Herman en Antoinette is in 1968 in Bloemfontein getroud. Hulle het twee seuns en vyf kleinkinders.

No comments:

Post a Comment