Alhoewel ʼn verskeidenheid bronne geraadpleeg is, is ons hoofbron die uitstekende webtuiste met teks, kaarte, fotos, ens. wat deur Warwick en Marlene Tarboton van Modimolle behartig word. Die titel daarvan is Waterberg BioQuest/BioSoektog.
Dis onmoontlik om binne die bestek
van hierdie kort artikel reg te laat geskied aan die verstommende diversiteit
van die fauna wat in die Waterberg aangetref word. Om maar enkeles te noem: 340
voëlspesies vind ʼn permanente tuiste in die streek, 157
soogdierspesies is reeds gelys, 120 reptielspesies word aangetref, 27
paddaspesies vorm ʼn melodieuse paddakoor, sowat 206 vlinderspesies
fladder die Waterberg vol, ens.
Alhoewel ons uiteraard huiwerig is om enkele
faunaspesies uit te sonder, is die fokus wat hierin hoofsaaklik op die
kleinvolk geplaas word hopelik verskoonbaar.
Die statige bloukraanvoël is ʼn “grondlopende, eiesoortige blougrys voël met lang pote, ʼn dik kop met ʼn wit kroon, ʼn pienk bek en lang vlerkpluime wat soos ʼn stert lyk en wat feitlik tot op die grond strek.” Omdat die voël ʼn bedreigde spesie is, word dit deur wetgewing beskerm.
Die statige bloukraanvoël (Foto: Mich Veldman) |
Die termietvreterspinnekop (Foto: Pieter Webb) |