Lettie Roode het
onlangs haar intrek in E62 geneem. Sy is 75 jaar gelede op Waterval-Boven
gebore en het op ʼn plaas tussen Belfast en Lydenburg grootgeword.
Lettie Roode |
Nadat sy aan die Pretoriase Tegniese Kollege
gematrikuleer het, het sy die werksomgewing van finansiële administrasie
betree.
Sy en Daan Roode is in 1970 op haar
geboortedorp getroud. Een dogter en twee kleinkinders, wat tans in Nieu Zeeland
woon, is uit hulle huwelik gebore. Daan het haar in 1987 ontval.
Lettie het verskeie
aftreeoorde in Pretoria oorweeg voordat haar keuse op ons oord geval het. Ons
webtuiste het hierin ʼn deurslaggewende rol gespeel. Op Kwêvoël se
vraag waarom sy besluit het om haar in Warmbad Renaissance te vestig, het sy
onomwonde gesê dat bekostigbaarheid, die goedversorgde terrein in ʼn pragtige omgewing en die feit dat haar suster in Soetdoringpark woon,
die deurslag gegee het. Boonop voel sy gekoester hier omdat die inwoners wat sy
tot dusver ontmoet het, vriendelik en hulpvaardig is.
Lettie is ʼn geesdriftige tuinier. Terwyl sy en Daan in Nelspruit gewoon het, was sy
by die plaaslike botaniese tuin werksaam waar sy haar liefde vir tuinmaak ten
volle uitgeleef en boonop haar tuinbouvaardighede ontwikkel het.