Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 28 July 2018

Ons webtuiste lok Pieter en Sophia hierheen

Pieter (80) en Sophia Maas (79) het onlangs vanaf Lichtenburg hierheen verhuis.

Pieter en Sophia Maas
Hierdie egpaar het verskeie aftreeoorde elders oorweeg, dog ons webtuiste het ʼn deurslaggewende rol in hulle finale besluit gespeel. Hulle dogter het tydens ʼn internetsoektog daarop afgekom en dit aan hulle getoon. Hulle het terstond E10 gekoop omdat hulle dadelik geweet het dat Warmbad Renaissance die plek is waar hulle hul oudag wil slyt.

Tot dusver is hulle heel ingenome met hul besluit. Warmbad is op die platteland, dog naby Pretoria met sy uitmuntende mediese geriewe.   Hierbenewens voel hulle veilig in die oord en hulle mede-inwoners is vriendelik en behulpsaam. Die feit dat hulle twee kinders en twee kleinkinders in Pretoria woon, is gewis ʼn pluspunt.

Pieter sê dat hy op ʼn wa naby Springbok in Namakwaland gebore is. Hy het die skool aan die einde van graad 9 verlaat om op Pofadder in die poskantoor te werk. Die salaris was maar klein met die gevolg dat hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit het. Hy het mettertyd matriek “oor die pos” geslaag, verskeie polisieverwante kursusse suksesvol deurloop en uiteindelik met die rang van kaptein uit die polisiediens getree.

Sophia is op Kenhardt gebore en getoë. Nadat sy matriek aan die Hoërskool Kenhardt geslaag het, het sy ʼn onderwysdiploma aan die Onderwyskollege Paarl behaal. Sy het die onderwys op 52-jarige ouderdom vaarwel toegeroep nadat sy haar hele loopbaan lank vir die graad drietjies skoolgehou het. Haar laaste pos was by die Laerskool Coligny. 

No comments:

Post a Comment