Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 24 July 2018

Margaret vind 'n veilige tuiste.

Margaret Kotzé (75) het vanaf Lydenburg na ons oord verhuis. Sy het onlangs haar intrek in E131 geneem.


Margaret Kotzé
Margaret vertel dat sy haar later nie meer kon versoen met haar groot tuin en die koue winterwind wat in daardie geweste waai nie. Om nie te praat van die inbrake waarvan sy gereeld ʼn slagoffer was nie. Sy het mettertyd besluit om ʼn ogie in die seil te hou vir ʼn kleiner woning in ʼn veilige omgewing waar die winterweer warmer is.

Haar kinders het ná ʼn internetsoektog op ons webtuiste afgekom en dit aan haar gewys. Sy het intuïtief geweet dat dít die plek is waar sy graag wil woon. Die feit dat haar drie kinders en vyf kleinkinders op Secunda, Centurion en Boksburg woon en dus maklik bereikbaar is, het óók ʼn rol gespeel. 

Haar eggenoot, Dirk, het haar jare gelede ontval.

Margaret is op Tadcaster gebore en getoë. Sy is later na die Hoërskool Vaalharts op Jan Kempdorp waar sy in 1961 gematrikuleer het. Daarna is sy na die Denneoord-onderwyskollege wat toentertyd noue bande met die Universiteit van Stellenbosch gehandhaaf het. Sy was ʼn lid van die Stellenboschse Universiteitskoor onder leiding van die legendariese prof. Gawie Cilliers.

Denneoord-onderwyskollege, Stellenbosch
Nadat sy in 1963 die Hoër Onderwysdiploma in Kleinkindertuinonderwys behaal het, het sy ʼn graad 2-onderwyspos op Kuruman aanvaar. Later het sy by verskeie skole gewerk voordat sy op Lydenburg uitgetree het. Hier het sy saam met ons bestuurskomiteevoorsitter se ma, Trientjie, skoolgehou. Trouens, sy het ʼn huldeblyk geskryf wat in Trientjie se begrafnisbrief geplaas is.

No comments:

Post a Comment