Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 14 November 2017

In die Bosveld gebore en getoë

Die Van der Merwes
Nadat hulle verskeie woonplekke oorweeg het, het Sakkie (65) en Marietjie (55) van der Merwe besluit dat hulle hulle oudag in Warmbad Renaissance wil deurbring. Hulle huur tans E113 en is in hulle noppies met die gerief en ruimte wat dit bied. Hulle is eweneens hoog in hulle skik met ons oord se goedversorgde terrein en die gawe mense wat hulle tot dusver ontmoet het. Kortweg: hulle is hier so gelukkig soos ʼn kat met sewe sterte!Sakkie is op Kuruman gebore. Hy het in Potchesftroom grootgeword en uiteindelik in 1971 aan die Hoër Tegniese Skool Rustenburg gematrikuleer. Hierna het hy in Pretoria by die voormalige Yskor ʼn vakleerlingskap as ʼn elektrisiën voltooi.

Sakkie het in verskeie hoedanighede in die Yskorgroep van maatskappye gewerk voordat hy by die Grootegeluk-steenkoolmyn op Ellisras uitgetree het om sy eie sakeonderneming van stapel te stuur.

Marietjie is ʼn Bosvelder in hart en niere. Sy is op Nylstroom gebore en getoë. Hier het sy in 1982 aan die Hoërskool Nylstroom gematrikuleer voordat sy ʼn student aan die voormalige Technikon Vrystaat in Bloemfontein geword het. Hier het sy diplomas as ʼn aptekers- en tandheelkundige assistent behaal. Na vele omswerwinge, veral in die Limpopoprovinsie, werk sy tans as ʼn skakelpersoon by die St. Vincents-hospitaal op Bela-Bela.

Sakkie en Marietjie het mekaar op Burgersfort ontmoet en is in 2011 op Cullinan getroud. Hy het twee kinders uit ʼn vorige huwelik, en twee kleinkinders. Marietjie was ook voorheen getroud en het een seun.

No comments:

Post a Comment