Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 29 April 2015

Ons nuwe(-rige) baba

Dit het byna soos verraad gevoel toe die Bestuurskomitee 'n aanbod van R75 000  vir ons getroue 1985-model Toyota diensbussie aanvaar het. Menige inwoner het met trane in die oë anderpad gekyk toe die nuwe eienaar die voertuig kom haal het!

Maar, soos 'n lid van die Bestuurskomitee onlangs wyslik opgemerk het, binnekort sou die ou strydros die oord meer gekos het as slegs die prys van 'n stel vonkproppe en punte.

Dit het tyd geword om te groet.

Ons vorige diensbussie
Die Bestuurskomitee het 'n ad hoc-komitee onder leiding van die ondervoorsitter, Gerhard van Rooyen, benoem om die motormark te fynkam op soek na 'n geskikte plaasvervanger. Gerhard was natuurlik die aangewese persoon om die soektog te lei aangesien hy jare lank in die motorbedryf gewerk het.

Uiteindelik het die keuse geval op 'n 2013-model 10-sitplek Toyota Quantum wat slegs 50 000 kilometer afgelê het. Nic Muller, die Algemene Bestuurder van Carnival Toyota in Brakpan en 'n ou kennis van Gerhard, het die voertuig teen 'n baie, baie spesiale prys aan ons beskikbaar gestel. Hierbenewens is die oorblywende waarborg van 1 jaar en 'n diensplan van 3 jaar van toepassing. Op die koop toe het Nic daarvoor gesorg dat die voertuig met 'n splinternuwe stel bande toegerus word.

Ons nuwe diensbussie saam met die aangewese bestuurders. V.l.n.r staan Gerhard van Rooyen, Hennie de Villiers en Dimmie Smith. Die letterskilderwerk sal binnekort aangebring word.
Die voertuig beskik oor veiligheidsgordels vir elke luukse sitplek, kragstuur, lugreëling, 'n trekstang, "anti smash-and-grab"-vensters en 'n sateliet-opsporingstelsel.

Die netjiese stuurkajuit

No comments:

Post a Comment