Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 20 April 2015

Nóg aanwinste vir ons oord

Johan (69) en Katie (68) Maritz het hulle intrek onlangs in Eenheid 5 geneem.

Katy en Johan Maritz
Johan en sy tweelingbroer, Neels, is in die Moedersbondhospitaal, Pretoria, gebore. Hulle het op sy ouers se plaas Middelkopje op die Springbokvlakte groot geword. Johan het later by sy pa oorgeneem en tot 2006 'n suksesvolle gemengde boerdery bedryf. In daardie jaar het die staat die plaas ingevolge 'n grondeis gekoop en aan die huidige eienaars oorgedra. Hulle seun huur tans die plaas van die nuwe eienaars. Hy boer dus voort waar drie geslagte Maritz gewoel en gewerskaf het.

'n Interessante - dog pynlike - gebeurtenis het hom jare later binne ses maande afgespeel toe eers Johan en later Neels per ongeluk die eerste lit van hulle regtervoorvinger verloor het. 

Johan en Neels. Of is dit nou Neels en Johan?
Katie is op Kroonstad gebore en het daar groot geword en skool gegaan. Haar ouers het op 'n plaas enkele kilometer buite die dorp geboer.

Johan en Katie het mekaar ontmoet terwyl hulle studente aan die aan die Universiteit van Pretoria was. Katie het haar as 'n kleuterskooljuffrou bekwaam en Johan het die B Admin-graad behaal.

Johan is terug Middelkopje toe om te boer en Katie het 'n pos by die SAFV-kleuterskool op Nylstroom aanvaar. Katie sê dat sy opsluit so na as moontlik aan Johan wou werk. 'n Mens moet aanvaar dat die gevoel wederkerig was! Sy was later 'n ruk lank die hoof van die skool.

Hulle is in 1969 getroud. Katie het 'n onderwyspos by die Laerskool Lehau naby Middelkopje aanvaar. Interessant genoeg was Johan en Neels die heel eerste leerlinge wat by die skooltjie ingeskryf is en Johan en Katie se jongste seun was een van die laaste leerlinge voordat die skool gesluit is.

Katie se ouers het mettertyd 'n buurplaas gekoop waar sy die eerste persoon op die Vlakte geword het wat intensief met Dormerskape geboer het. Hierbenewens het sy ook 'n winkeltjie daar bedryf.

Hierdie vriendelike paar het besluit om van ons oord hulle tuiste te maak want hulle voel dat hulle nou die ouderdom bereik het om in 'n rustige omgewing ouer te word, maar nog jonk genoeg is om aan die vele aktiwiteite wat die oord aanbied, deel te neem. Hulle sê hulle woon baie lekker in ons mooie oord met sy vriendelike inwoners.

Johan en Katie is baie trots op die 4 seuns en 6 kleinkinders wat uit hulle huwelik gebore is.

No comments:

Post a Comment