Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Wednesday 13 August 2014

Manswêreld? Watwou!

Diegene wat Elsa Erasmus (Eenheid 49) ken, sê dat sy haar ding in 'n sogenaamde manswêreld kán doen en, op die koop toe, veel beter as die meeste mans.

"Dit was in daardie jare toe mans hoofsaaklik bepaalde beroepe beoefen het," sê Elsa.

Elsa Erasmus
Nadat sy en haar wederhelfte, Philip, die plaaslewe vaarwel toegeroep het, het hy as 'n instrumenttegnikus by een van die myne op Phalaborwa begin werk en sy as 'n tuisteskepper.

Alhoewel Elsa geen formele kwalifikasies ná matriek behaal het nie, beskik sy oor 'n ondersoekende en waagmoedige gees. Voeg daarby 'n goeie skeut intelligensie en dis geen wonder nie dat sy 'n uitlaatklep vir haar kreatiwiteit gesoek het kort nadat hulle na Phalaborwa verhuis het.

Die geleentheid hiervoor het hom voorgedoen toe sy 'n pos by 'n siviele ingenieursmaatskappy op die dorp aangebied is. 

"Ek het rêrig heel onder begin," vertel Elsa met 'n groot glimlag. "Ek het tee gemaak, tikwerk gedoen ... noem dit, ek het dit gedoen."

Gou was sy sodanig op die hoogte van ingewikkelde dissiplines soos bestekopname, vervoerekonomie, sekuriteit, personeelopleiding en talle ander aspekte wat met die konstruksiebedryf verband hou, dat sy met bestuurstake toevertrou is.

En nog is het einde niet. Toe die rekenaarera haar firma gedwing het om te rekenariseer, het sy hard aan haar eie rekenaarvaardighede gewerk, dermate dat sy haarself tans as renaargeletterd beskou.

Nadat sy en Philip die beroepswêreld na twintig jaar vaarwel toegeroep het, het hulle na Stilbaai aan die suidelike Kaapse kus verhuis. Hier kon hulle hulle passie vir, onder andere, hengel uitleef.

Elsa en Philip hengel aan die Transkeise kus
Nadat Philip haar ontval het, was die roepstem van haar drie kinders, agt kleinkinders en die Bosveld té sterk. Sy het, getrou aan haar aard, talle opsies ondersoek en uiteindelik op Warmbad Renaissance besluit waar sy nou reeds 'n jaar lank gelukkig woonagtig is.

No comments:

Post a Comment