Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday 30 April 2024

Ons groet Hennie Stoop (E91)


 


Hennie en sy vrou Nella het na sy 60ste verjaarsdag, in Desember 1998 vanaf die Wesrand (Krugersdorp) in sy eie woorde “jonk, fris, lus en gesond” in Renaissance ingetrek.

Daar was geen beduidenis van ‘n tuin nie. Saam met ‘n handlanger het hulle al die ou sementsakke, platgetrapte verfblikke en klippe opgegrawe. Eiehandig het Hennie die tuin uitgelê en gevestig en tot vandag versorg hy nog self die tuin.

 

Hy was jare lank lid van die Bestuurskomitee en verantwoordelik vir tuindienste. Die BK lede het almal baie lekker saamgewerk. Hulle het om die beurt daagliks die hek vir ‘n uur beman tydens die ruil van die wagte se skofte. Wagte het net 8 ure gewerk.

 

Die oord het oor ‘n Interkomstelsel beskik wat ‘n baie effektiewe kommunikasie kanaal was vir alle inwoners. Noodgevalle, tuin- en instandhoudingsdienste versoeke, alle terugvoer, inligting en kennisgewings het per interkom geskied.

 

Een maal per jaar het Renaissance ‘n stokperdjieskou aangebied, waar inwoners hulle stokperdjies uitgestal en verkoop het. Rusoord, ouetehuise en ander het uitnodigings ontvang. Stokperdjies het naaldwerk, skilderkuns, houtsneewerk en vele ander ingesluit.

 

Vir etlike jare was Hennie ook voorsitter van die veerpyltjies groep en van Warmbad se stapklub, waarby Nylstroom inwoners ingesluit was.

 

Hy het goeie jare hier met vriende gehad, liefde ervaar en ook hartseer beleef met die afsterwe van sy oudste seun in 2005 en 9 jaar later sy vrou. In Julie 2014 was hulle 55 jaar getroud en sterf sy in diselfde maand. “Ek gaan met ‘n swaar hart hier weg na 25 jaar”. Hy trek Kaap toe waar sy dogter woon. Sy gesondheid en veroudering gaan toekomstige ondersteuning en versorging vereis.

 

Hennie vier in Maart sy 86ste verjaarsdag in die Kaap met sy kinders en kleinkinders. Ons wens hom God se seën toe – liefde, genade en Sy Heilige teenwoordigheid.


Almal het op Woensdag 24 April 2024 by die Lapa amptelik van hom afskeid geneem en sy trekkery het op 25 April plaasgevind. Voorspoed en alles wat mooi is ou Hennie Pennie.

No comments:

Post a Comment