Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Monday 15 August 2016

Inwoner maak 'n verskil in die gemeenskap

Jy tref in elke gemeenskap talle beskeie mense aan wat stilweg met groot toewyding en deernis werk om minderbevoorregte persone se nood te verlig.


In E107 woon een van diegene. Haar naam is Ria Bester.


Ria Bester
Dit het moeite gekos om Ria te oorreed om te gesels oor haar betrokkenheid by die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA), die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die Abraham Kriel Kinderhuis op Modimolle.


KANSA
KANSA is ‘n nie-winsgewende organisasie wat kanker beveg en kankerlyers ondersteun. Ria is al 50 jaar lank met KANSA gemoeid en het reeds verskeie kursusse in berading ondergaan. Sy sê dat dit hoogs bevredigend is om terminale kankerlyers van hulp en troos te wees.


Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie

Ria is die afgelope 17 jaar lank lid van die plaaslike tak van die SAVF. 

Die SAVF is in 1904 gestig weens ‘n groepie vroue se besorgdheid oor mense wat ná die Tweede Anglo-Boereoorlog in nood verkeer het. Algaande het hulle hoofdoel verander om ‘n algemene welsynsdiens te lewer. Die plaaslike tak fokus onder andere daarop om behoeftige inwoners van die Rusoord Tehuis vir Bejaardes op ons dorp finansieel te ondersteun. Hulle hou verkopings van allerlei aard om geld hiervoor in te samel.


Abraham Kriel Kinderhuis

Verskeie Abraham Kriel Kinderhuise is landwyd kort na die Anglo-Boereoorlog in die lewe geroep om na oorlogswesies om te sien. Die Abraham Kriel Kinderhuis op Modimolle het in 1959 tot stand gekom om aan hulpbehoewende kinders ‘n heenkome te bied.

As ‘n lid van ‘n groepie vroue van die NG Gemeente Warmbad-Wes, besoek Ria een van die wooneenhede een keer per maand om die inwonertjies te ondersteun en om lekkernye en lewensmiddele uit te  deel. 

Ria skryf haar toewyding aan gemeenskapswerk aan die voorbeeld wat haar oorlede ouers van kleins af aan haar gestel het. "Hulle was omgeemense wat my as’t ware onder die SAVF-tafels grootgemaak het," sê sy.


No comments:

Post a Comment