Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Saturday 15 June 2024

 ONS VERWELKOM NUWE INWONERS

Nolene Botes (E83)

Noleen kan nie stilsit nie. Sy werk tans in die finansiële afdeling van ’n plaaslike afslaersonderneming.

Sy het twee kinders. Haar seun woon in Pretoria en haar dogter, in Modimolle. Sy is die trotse ouma van twee kleingoed.

Haar wederhelf, Barry, is in 2022 oorlede en het sy hul plaas “Tweefontein” weens veiligheidsredes vaarwel toegeroep om haar in ons oord te vestig waar sy hoop dat sy - met die hulp van Bo - ’n nuwe begin en nuwe vriende sal maak.

Noleen stap graag, skilder, lees en vroetel in die tuin.


Johlene Coetzer (E14)

Johlene kom oorspronklik van Winterton af waar sy ’n gastehuis bedryf het. Nadat sy besluit het om dit te verkoop, het sy twee jaar lank in Hermanus gewoon. Sy het saam met haar dogter by skoonsus, Ingrid van den Berg (E34), kom kuier en summier besluit om haar in ons oord te vestig.

Haar seun en dogter is in Johannesburg woonagtig. Sy is die trotse ouma van drie kleinseuns en een kleindogter.

Johlene is ’n kreatiewe persoon wat pragtige leerhandsakke maak.




Friday 14 June 2024

 DIE VOORSITTER VAN DIE BESTUURSKOMITEE SE BOODSKAP - 2/2024


Kwêvoël is een van die die mediums waardeur nuus van die oord versprei word. Om nuus te publiseer, is dit noodsaaklik dat die inligting waar en korrek weergegee word. Hoorsê-inligting kan baie verleentheid en ongelukkigheid veroorsaak by die persoon of persone wat ter sprake is. Indien iemand te na gekom is, vra ek namens die bestuurskomitee om verskoning vir die foute. Ons is maar net mense en vertrou dat die inligting wat ontvang word, aan die vereistes voldoen.

Die bestuurskomitee is nie ʼn geheime organisasie nie en vra u om te deel met die inwoners wat vir u mooi is en ook wat vir u ʼn saak van bekommernis is. Dit is nie nodig dat u huis ʼn plek van afsondering moet wees net omdat u ’n afgetredene is nie. As u ongelukkig is met ʼn persoon, is dit nie nodig om daardie persoon se eiendom te beskadig nie. Afguns is ʼn lelike eienskap en dit bring net chaos en verdeeldheid.

Baie dankie aan die inwoners wat bereid is om te help met oord-aftiwiteite, byvoorbeeld die bak van vetkoeke en diegene wat dit koop, die instandhouding van tuine en terrein, bure wat mekaar help waar daar nood ontstaan, mense wat help wanneer iemand geval het, wat beseerdes na die dokters neem, die bestuur van die bussie, ens.

Baie dankie aan almal wat betrokke is by die werksaamhede van die Kwêvoël. As u nie die nuusbrief wil ontvang nie, sê vir my, dan sal ons nie een in u posbus plaas nie. Dit is nie nodig om dit op te skeur en in die vullisblik te gooi nie.

Ek wil al die bestuurslede bedank vir hul ondersteuning. Sterkte vir die res van die jaar                

Groete, 

Wessie van der Westhuizen