ʼn Hewige storm met reën, wind en hael het
Bela-Bela op 6 November in die vroeë oggendure getref.
Die stormwind het ʼn geskatte veertien bome in ons oord ontwortel en talle ander beskadig.
Ons pragtige tuine het ook erg deurgeloop. Gelukkig was daar geen skade aan die
wooneenhede nie. E88 het egter groot teenspoed naelskraap vrygespring (foto onder)
Drie koorsbome het die
noord-oostelike hoek van ons veiligheidsomheining verwoes (foto onder). Galven
Security het egter gou op Gerhard van Rooyen (Sekuriteitsportefeulje) se
versoek gereageer en ʼn veiligheidswag daar geplaas.
Tydelike herstelwerk is reeds gedoen. Die heining sal mettertyd ten volle
opgeknap word.
Dis belangrik om kennis te neem dat
ons veiligheidsmaatreëls hoegenaamd nie in die gedrang is nie.
Die oord betuig graag namens sy inwoners sy waardering aan Jannie en sy tuindiensspan wat onverpoos geswoeg het
om die omgevalle bome op te saag en te verwyder.
Ons werkers het eweneens gewoel en
gewerskaf om orde uit die chaos te skep.
Ons durf ook nie die bydrae van
Galven Security geringskat nie. Afgesien van die veiligheidswag wat die maatskappy
op kort kennisgewing voorsien het om die gaping in die veiligheidsomheining te
bewaak, lewer hulle lank reeds uitstekende diens aan ons oord. Hulle personeel
vertoon te alle tye netjies en tree deurgaans vriendelik, hoflik en behulpsaam
teenoor ons inwoners op. Frans Matjila (foto onder) is een
van hulle staatmakers.