Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 21 February 2014

Palms Renaissance, 'n heenkome vir vele.

Die ingang tot 'n oase van netheid, puik organisasie, geborgenheid, rus en kalmte 
Palms Renaissance was voorheen die Palms Hotel. Die naam van die oord is waarskynlik ontleen aan die indrukwekkende gekleurde vensters met 'n palmmotief van die ruim eetkamer waar drie etes per dag aan die inwoners voorgesit word.

Die naam van die oord is waarskynlik ontleen aan hierdie indrukwekkende gekleurde vensters.
Dié aftree-oord in Silverton skep sommer by die eerste kennismaking die indruk van 'n oase van netheid, puik organisasie, geborgenheid, rus en kalmte in die middel van hierdie woelige voorstad van Pretoria.


Die indrukwekkende voorportaal
"Inwoners van die aftree-oorde binne die Renaissance-groep geniet voorkeurreg vir verskuiwing hierheen sou hulle omstandighede dit noodsaak," sê die superintendent van Palms Renaissance, Marita Oberholzer.

Die Superintendent van Palms Renaissance, Marita Oberholzer.
Vir die inwoners van Warmbad Renaissance is dit gerusstellend om te weet dat dat daar 'n plek soos Palms Renaissance is as hulle die stadium van hulle lewe bereik wanneer hulle spesiale versorging nodig het. Trouens, talle persone het reeds van Warmbad na Palms getrek.

"'n Boom verplant egter nie maklik nie," verduidelik Marita. "Die feit dat die omstandighede by Palms Renaissance 'n nuwe inwoner se spesifieke behoeftes aanspreek, maak die aanpassing gewoonlik makliker."

Uiteraard koester die inwoners herinnerings van 'n vroeëre tydperk in hulle lewe, dog die meeste is kennelik gelukkig en tevrede.

Alhoewel die Palms oor ruim enkel- en dubbelkamers beskik vir diegene wat dit verkies, bied die oord ook huisvesting in losstaande skakelhuise op die terrein.

Die skakelhuise op die terrein.
Die oord spesialiseer egter in die versorging van verswakte bejaardes, insluitend pasiënte wat aan Alzheimersiekte ly. Ook húlle word gehuisves in gerieflike kamers.

'n Gerieflike kamer in die sorgeenheid.
Marita en haar toegewyde personeel doen baie moeite om inwoners se belangstelling te prikkel.

"Hulle hou saam partytjie, woon rolprentvertonings by, besoek die goedtoegeruste biblioteek, woon gereelde kerkdienste by, brei dikwels items wat aan hulpbehoewende kinders geskenk word," sê sy.

Die biblioteek.
Die kapel.
Voorts aanvaar die inwoners self verantwoordelikheid vir die kwartaallikse nuusbrief, die snoepwinkel, asook die sortering en aflewering van pos. Hierbenewens vroetel hulle graag in die oord se tuin, of lees vir die pasiënte in verpleegsorg. Saamgesels en saam teedrink - veral tydens verjaardagtee-gesellighede - is gewis 'n gunstelingtydverdryf.

Die sekuriteit is uitstekend. 'n Stewige hek wat dag en nag deur sekuriteitsbeamptes beman word, verleen toegang tot die oord. 'n Veiligheidsheiding wat snags gepatrolleer word, omring die terrein.

[Inligting in hierdie berig is ontleen aan Newsletter/Nuusbrief - Warmbad Renaissance, Februarie 2014]

No comments:

Post a Comment