Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Friday 26 April 2024

3. kVA kwessie

 Uittreksel uit die 4de kwartaal se nuusbrief

Van iemand af wat weet waaroor ons inwoners bekommerd is en nie verstaan! Dankie Johann

kVA  -  Wat is dit ?                                                                     

Op ons maandelikse state wat ons vanaf Renaissance ontvang, is daar twee inskrywings wat betrekking het op elektrisiteit, kWh en kVA.

kWh verwys na die totale hoeveelheid elektrisiteit wat jy gedurende ‘n bepaalde  maand verbruik.

kVA verwys na die maksimum tempo waarteen  jy elektrisiteit gedurende ‘n bepaalde tydperk verbruik het. Hierdie tydperk kan van korte duur wees soos ‘n uur of so. kVA kan  gesien word as ‘n soort boete wat gehef word vir ’n te hoë tempo van verbruik. Dis soos om met jou motor deur ‘n snelstrik te jaag. Hoe vinniger jy op daardie stadium gery het, hoe hoër is die boete - ongeag of jy net na Pretoria of dalk na Kaapstad toe oppad was.

Hier is  twee scenarios.

Scenario A

Jy bak op Maandag ‘n koek in die oond, Dinsdag kook jy ‘n pot sop op die stoof, Woensdag besluit jy om te stort en skakel die geiser aan, Donderdag stofsuig jy al die matte in jou huis, Vrydag was jy wasgoed in jou wasmasjien en tuimeldroog dit daarna en Saterdag stryk jy al die wasgoed. Jy het dus elke dag een of ander elektriese toestel in jou huis vir ‘n tydlank gebruik. Daardie verbruik word as kWh op die meter langs jou huis geregistreer.

Scenario B

Die volgende week hoor jy dat iemand kom vir ‘n paar dae kuier en jy moet noodgedwonge  ál die takies wat jy die vorige week oor ses dae uitgevoer het, nou  sommer in één dag afhandel. Aan die einde van daardie dag het jy net soveel krag as in scenario A verbruik, so die kWh is dieselfde. Maar hierdie keer het jy al daardie krag in net één dag gebruik, m.a.w. die tempo van krag-verbruik  was in scenario B baie hoër as in scenario A. Dit word gemeet in kVA.

So, wat maak dit saak of ek al die krag in een dag of oor ses dae gebruik? Dis mos dieselfde hoeveelheid krag!

Gestel jy gebruik  jou eie generator om elektrisiteit op te wek. In scenario A gebruik jy min krag op ‘n bepaalde tydstip en ‘n klein generator sal voldoende wees. Jy kan dit selfs afskakel van tyd tot tyd. In scenario B gebruik jy baie meer krag op ‘n bepaalde tydstip want jy het die geiser, die oond, die stoof en die wasmasjien dalk alles gelyktydig aan.  Jy sal dus ‘n baie groter generator benodig en dit sal heeldag aangeskakel moet  wees. Wanneer die kuiergaste weer weg is, sal ‘n klein generator weer voldoende wees, maar jy moes  noodgedwonge  ‘n groter een koop vir tye soos wanneer jy gaste kry. Meeste van die tyd werk die groot generator egter nou  halfstoom want dit is eintlik té groot . Jy moes egter die kapitale uitleg maak vir die groter generator wat jy net soms gebruik. Dis onproduktief en onekonomies.

Eskom is in dieselfde bootjie. Hulle moet groot kragstasies en groot netwerke en baie mense hê om elektrisiteit te enige tyd en oral  te verskaf wanneer  huishoudings én fabrieke dit benodig, dag of nag.  Snags en oor naweke en vakansies sluit baie  fabrieke en die kragverbruik verminder drasties, maar al die kragstasies en netwerke en mense is steeds daar en dit kos deurlopend geld. Omdat die verbruik dan laer is, is Eskom se inkomste uit die verkoop van elektrisiteit ook laer, dit is weereens  onproduktief en onekonomies - maar dis nodig.  Sien kVA dus as ‘n soort versekering met ‘n gereelde premie  wat ons betaal vir die gerief om altyd voldoende elektrisiteit te hê. (Knyp maar vir eers jou oë toe vir beurtkrag)

Renaissance koop grootmaat elektrisiteit aan van die munisipaliteit. Dit word gelewer teen 11 000 Volt, 3-fase. Ons skakel dit om na 230 Volt, 1-fase, en versprei dit dan na elke wooneenheid. Die rekening vir grootmaat elektrisiteit, soos aan Renaissance en fabrieke gelewer,  bestaan ook  uit kWh- en kVA- komponente. Grootmaat elektrisiteit, ten spyte van die kVA-heffing, is steeds  goedkoper as die elektrisiteit wat aan die dorpsmense verskaf word teen net kWh-tarief. Grootmaataankope is altyd goedkoper per eenheid, soos bv. grootmaat melk,  grootmaat toiletpapier en grootmaat mieliemeel.

Die kVA-rekening vanaf die munisipaliteit word pro-rata volgens elkeen se kWh-verbruik onder inwoners verdeel. Dit varieer dus maandeliks. Al is Renaissance se kWh-rekening die volgende maand dieselfde as die vorige maand, sal die kVA-rekening nogtans  verskil, omdat die tempo van verbruik van dag tot dag en uur tot uur en selfs minuut tot minuut, varieer. Jy ry nie altyd dieselfde spoed wanneer jy deur die snelstrik ry nie en gevolglik varieer die boete ook. Hierdie boete word pro-rata onder inwoners verdeel en wys as jou kVA-aanslag.

Volgende keer kyk ons na hoe die snelstrik werk en of ons dit dalk kan omseil - of minstens die boete kan verlaag. 😊

 Johann Benade

 

 

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment