Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Tuesday, 29 September 2020

Botaniese tuin kom dalk langs ons oord

ANDRIES VAN DER HEYDE skryf in Die Pos-koerant van 11 September: ʼn Groep inwoners van Bela-Bela beywer hulle daarvoor om ʼn botaniese tuin op die Alma-pad buite die dorp te vestig in ʼn poging om die natuur vir die nageslag te bewaar.

Een van die gebiede wat hiervoor geïdentifiseer is grens aan die Warmbad Renaissance-aftreeoord.

Die onderstaande foto’s bied ʼn uitsig op die terrein. 

Die bostaande foto is vanaf die ingang van die Tuintuiste-aftreeoord in die rigting van ons oord geneem

Hierdie foto bied ʼn uitsig vanaf die dorpsreservoirs in die rigting van die dorp. Ons oord lê links.

Tinus Ras, DA-raadslid, het onlangs ‘n video versprei waarin gevra word dat inwoners die projek sal ondersteun om die oorblywende deel van Gedeelte 25 (die gedeelte wat van die dorpsreservoirs tot teenaan die Alma-pad en Warmbad Renaissance strek, in ʼn botaniese tuin te omskep.

Inwoners het besluit om dié stuk grond op eie koste te omhein. Die munisipaliteit het reeds mondelings toestemming daarvoor gegee, maar die projek sal afskop sodra skriftelike goedkeuring verkry is, het Ras gesê.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum is ten nouste betrokke by die projek.

“Hierdie projek kan die bewaring van die flora van Limpopo op ʼn wetenskaplike wyse vestig en bydra tot ons dorp as toerismebestemming en as poort  tot die ervaring van die Waterberg-biosfeer en Limpopo. Ons moet egter kan bewys dat die projek beduidende steun in die gemeenskap geniet,” het Mills verduidelik.

Mills het voorts gesê die idee is reeds deur die provinsiale department van natuurbewaring verwelkom en word in beginsel deur die die Suid-Afrikaanse Botansiese Instituut ondersteun.

ʼn Versoekskrif word intussen rondgestuur waarop mense hulle steun aan die beoogde projek kan betuig. Mills het gesê hoe meer mense dit ondersteun, hoe groter is die druk op amptenary om die ontwikkeling gunstig te oorweeg.

‘n Verteenwoordiger van ons oord het op 15 September ‘n vergadering bygewoon waartydens ‘n loodskomitee gestig is. Philip van den Berg (E34) sal ons in die loodskomitee verteenwoordig.

 

Thursday, 24 September 2020

Oord verwelkom Henk Botha

Henk Botha (65) is in Nigel gebore, maar hy en sy ouers het in sy kinderjare na Randfontein verhuis. Van toe af, en tot sy aftrede, het hy in hart en niere ʼn Randfonteiner geword. 

Henk het in 1973 aan die Hoërskool Jan Viljoen gematrikuleer. Ná skool het hy ingeskryf ʼn as 'n vakleerling-elektrisiën. Nadat hy sy vakleerlingskap voltooi het, is hy na die Anglo American Platinum Engineering Skills Training Centre oorgeplaas waar hy in die elektriese afdeling klas gegee het. Henk is mettertyd bevorder en het in 2015 as die assistentbestuurder van die sentrum afgetree. 

 Op die vraag waarom hy juis vanaf Randfontein na die Warmbad Renaissance-aftreeoord verhuis het, het hy gesê dat hy dikwels in die omgewing vakansie gehou het en lief geraak het vir die Bosveld. Hy het ons oord besoek, gehou van die Bosveldatmosfeer hier en terstond E19 aangeskaf. Hy beoog om die eenheid op te knap en volgens sy smaak in te rig

Tuesday, 22 September 2020

Oord verwelkom Apie en Wilma Pretorius


Apie (68) en Wilma (67) Pretorius het onlangs hul intrek in E138 geneem. Hulle is baie ingenome met hulle klein, maar gerieflike woning, asook die vriendelike en hulpvaardige inwoners wat hulle tot dusver ontmoet het. Hulle het ʼn omvattende studie gedoen van aftreeoorde elders voordat hulle op Warmbad Renaissance besluit het. Nou, sê hulle, voel dit asof hulle na ʼn lang vakansie tuisgekom het.

Wilma is in Kimberley gebore en het op Hopetown grootgeword. Sy het in 1971 aan die Hoërskool Hopetown gematrikuleer en in 1972 ʼn ingeskrewe student aan die Universiteit van die Vrystaat geword. Hier het sy in 1975 ʼn BA-graad met Sielkunde en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke, en ʼn Hoër Onderwysdiploma behaal.

Sy en Apie het na Potchefstroom verhuis nadat hulle in November 1975 getroud is. Sy het tot haar aftrede in 2018 onder andere jare lank die administrasie van die MBA-kantoor in die Sakeskool van die Universiteit van Potchefstroom behartig.

Apie is op Bothaville gebore en getoë. Nadat hy in 1970 aan die Hoër Volkskool Potchefstroom gematrikuleer het, het hy sy diensplig in die SAW verrig. Vervolgens het hy óók ʼn student aan die Universiteit van die Vrystaat geword waar hy en Wilma vir mekaar ogies gemaak het. Apie het uiteindelik die M.Sc.Agric-graad behaal.

Hy het jare lank landbounavorsing by die Landbounavorsingsraad se Graaninstituut op Potchefstroom gedoen voordat hy sy eie sakeonderneming tot stand gebring het.

Thursday, 3 September 2020

Oord verwelkom Estelle Creighton


 Estelle Creighton (81) is op Louisvale gebore en het in Otavi, Namibië, grootgeword. Sy het haar skoolopleiding in 1956 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl voltooi, waarna sy ʼn betrekking as ʼn bankamptenaar by die voormalige Trustbank aanvaar het.

Estelle en haar gesin het 55 jaar lank in Bela-Bela gewoon voordat sy na Pretoria verhuis het. Sy het egter besluit om na ons dorp terug te keer en het onlangs haar intrek in E82 geneem.

Vanweë haar vroeëre verbintenis met Bela-Bela, was sy deeglik bewus van ons oord en sy goeie hoedanighede. Sy praat met lof van die vriendelike en hulpvaardige inwoners met wie sy tot dusver te doen gekry het.

Estelle het twee kinders en twee kleinkinders.

Monday, 31 August 2020

Shirley is one of our talented residents

Shirley Moore
Shirley Moore (57) was born and bred in Bulawayo, Zimbabwe. She recently moved to our village and lives in U61.

Shirley is a product of the Bulawayo Polytechnic where she studied applied art and design, eventually becoming a qualified textile designer. On completion of her studies, she joined a company named Cotton Printing in Bulawayo where she became the manager of the art studio in due course.

It is not surprising that Shirley is steeped in the world of fine art, particularly painting. She describes her technique as detailed and colourful, using oil as well as watercolours as her mediums. Although she mainly draws her inspiration from photographs, she often accepts commissions.

Shirley hard at work putting the finishing touches to one of her recent paintings
One of Shirley's detailed and colourful paintings
Shirley makes her living selling original paintings, as well as prints of her work. Her telephone number is 078 826 3181.


Sunday, 30 August 2020

Oord verwelkom Willie en Petro du Plessis

Willie en Petro du Plessis
Willie en Petro du Plessis het meer as veertig jaar lank op Fourways gewoon voordat hulle besluit het om hulle ruim huis te verkoop en ʼn kleiner woning aan te skaf. Hulle het verskeie opsies oorweeg voordat hulle besluit het om E17 in ons oord te koop en hierheen te verhuis.

Willie (68) is ʼn gebore en getoë Johannesburger. Hy het in 1969 aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer waar hy o.a. die kadetorkes se tamboermajoor was. Hierna het hy die Nasionale Diploma vir Tegnici aan die Wits Technikon verwerf.

Hy het vervolgens verskeie poste as ʼn siviele ingenieurstegnikus beklee voordat hy sy eie onderneming begin het.

Petro (67) is op Oudtshoorn gebore en het in Levubu grootgeword. In 1970 het sy aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Hierna het sy die THOD aan die Normaalkollege Pretoria verwerf. Sy was voorts jare lank ʼn junior primêre onderwyseres.

Willie en Petro is in 1980 getroud. Hulle het drie dogters en drie kleinkinders. Al die kinders woon in die buiteland

Saturday, 29 August 2020

Alet is een van ons talentvolle inwoners

Alet Botha (E41) is op Delmas gebore en het in Standerton grootgeword. Later het sy ʼn onderwysdiploma behaal aan die Normaalkollege Pretoria.  Kuns was een van haar vakke.

Alet was tot haar onlangse aftrede ʼn onderwyser by Laerskool Warmbad waar sy veertien jaar lank onder andere Wiskunde en Kuns onderrig het.

Alhoewel sy nie op skool kunsonderrig ontvang het nie, het sy van kindsbeen af ʼn buitengewone belangstelling en aanleg daarin getoon. Later het sy vir ses weke lank kunsklasse ontvang.

Olieverf en pastel is Alet se gunstelingmedia. Sy gee voorkeur aan portetstudies. Sy put haar inspirasie uit foto’s.

Een van Alet se portretstudies
Alet staan by een die die etlike landskapskilderye wat sy al geskilder het
Alet bied tans ook kunsklasse aan. Haar telefoonnommer is 073 581 1490