Welkom by die webjoernaal van die Warmbad Renaissance-aftreeoord, Bela-Bela

Welcome to the blog of the Warmbad Renaissance Retirement Village, Bela-Bela

Soek 'n berig in Renaissance

Soek jy na 'n berig in hierdie webjoernaal? Volg die aanwysings hieronder.

Thursday, 23 August 2018

Plaaslike koerant skryf oor inwoner

Die Pos-koerant plaas so dan en wan ’n rubriek getitel Uit toeka se dae. Onlangs het ‘n beriggie onder die opskrif “Nederige lewe vol geluk en seën” oor Chris Snyders (E97) daarin verskyn.

Chris Snyders
Verslaggewer ANDRIES VAN DER HEYDE skryf: Die Pos het by Chris Snyders (81) van Bela-Bela gaan kuier vir ons maandelikse Toeka se dae-rubriek.

Snyders geniet op sy oudag steeds goeie gesondheid, is dankbaar vir die lewe wat hy tot dusver gelei het en is geseënd om vreugde in sy lewe te ervaar. Hy en sy vrou, Lizzie, is reeds 60 jaar getroud.

Waar kom jy vandaan en wat was jou beroep?
Ek is in Kimberly gebore, het in De Aar grootgeword en het daar skoolgegaan, waarna ek by Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom gematrikuleer het.

Ek het my bekwaam as ʼn passer van elektriese lokomotiewe by die destydse Suid-Afrikaanse spoorweë, waar ek vir 33 jaar gewerk het.

Ek en my vrou, Lizzie, woon reeds 18 heerlike jare in Bela-Bela in die pragtige Renaissance-aftreeoord.

Wat is die grootste veranderinge wat jy in jou leeftyd beleef het?
Die grootste verandering was toe televisie destyds in my sitkamer verskyn het en ek nie meer met my ore naby ʼn radio na ʼn denkbeeldige rugbywedstryd moes kyk nie. Dit was nogal ʼn groot belewenis.

Wat dink jy van vandag se jongmense?
Hedendaagse jongmense het baie groter uitdagings op elke terrein as toe ek jonk was. Hulle sal moet aanhou, vashou en moedhou om hulle doelwitte te bereik.

Wat is die een les wat die lewe jou geleer het?
Die lewe het my geleer geleer om in alle omstandighede waarheid en standvastigheid hoog te ag – ja is ja en nee is nee.

Wat lees jy graag?
My gunstelingskrywer is FA Venter, veral die reeks oor die Groot Trek.

Mense is so negatief oor die land, maar wat maak jou opgewonde oor Suid-Afrika?
Suid-Afrika is vir my ʼn pragtige land. Daar is sonskyn, ruimtes, natuur, berge, see en vlaktes – wat meer wil ek hê?

Wat is die onvergeetlikste reis wat jy in jou lewe onderneem het?
Die mooiste plek vir my was die magtige Victoria-watervalle toe ons 60 jaar gelede, tydens ons wittebrood, per trein na Rhodesië gereis het.

As jy jou hartsmense moet oornooi vir ete, wat sal jy voorsit?
Ek sal vir hulle braaivleis en potbrood maak. Vir nagereg sal dit malvapoeding met baie room wees.

Wie is jou kinders en kleinkinders?
Ons het twee seuns, Wimpie en Lourie. Albei woon in Pretoria. Ons het ook vier kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Monday, 20 August 2018

Só het ons oord ontwikkel (3)

Soos voorheen vermeld, beoog ons om in die volgende paar maande stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee en foto-albums gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

Ou notules van die bestuurskomitee het in 1993 gewag gemaak van die verloop van gebeure wat tot die totstandkoming van een van die bekende geboue van ons oord gelei het, te wete die Lapa.

Die inskrywings van die notules word vervolgens onveranderd aangehaal. Die teks tussen vierkantige hakies is byvoegings ter verduideliking.

“6 Mei 1993: Dit wil voorkom of die ontwikkelaar ʼn Lapa wil beskikbaar stel vir die gebruik deur die inwoners. Die Lapa sal opgerig word reg voor die dienssentrum [die Nes en administrasie-kantoor], oorkant die pad (Wes van die sentrum).

3 Junie 1993: ’n Brief sal aan mnr. Wessel Bester [die ontwikkelaar] gerig word om te verneem wat die moontlikheid is dat ʼn permanente lapa op die fondasie van eenhede 64, 65 en 66 opgerig kan word.

7 Oktober 1993: Lapa: Die komiteelede besoek na die vergadering die Lapaterrein ten einde ʼn inset te lewer met betrekking tot die beplanning van die uitleg.

14 Julie 1994: Mnr. Bester sê dat hy heel beindruk is met die voorstelle van die lede t.o.v. die Lapa en daar is reeds met die bouwerk begin. Hy word deur die vergadering bedank vir die Lapa. Die ontwikkelaar het goedkeuring verleen om 150 afgedankte posbusse by die plaaslike Posmeester aan te koop teen R900.00. Die posbusse sal ingebou word in die nuwe Lapa.” [Poon van Aswegen (E15), die oudposmeester van Warmbad wat aan die einde van 1992 afgetree het, het aan die skrywer hiervan vertel dat die oord vóór hierdie tyd van ‘n privaatsak gebruik gemaak het.]

14 November 1994: Die lapa word vanaf 17:00 op 1 Desember 1994 (Donderdag) in gebruik geneem. Alle inwoners word hartlik uitgenooi om hierdie heuglike geleentheid op ʼn ‘bring en braai’ basis (bring eie stoele, eie vleis/drankies, asook nodige eetgerei) by te woon. Van die ontwikkelaar se hoofkantoor word eregaste genooi van wie dit nie verwag word om ‘eet en drink’ uit Pretoria saam te bring nie. Die Voorsitter sal die verrigtinge open met ʼn kort woord van verwelkoming rig aan almal en in die besonder ons eregaste uit Pretoria. Daarna sal mnr. Wessel Bester die geleentheid kry om kortliks te antwoord. Die Sosiale-komitee sal reël vir die verversings/eetgerei/stoele wat aan ons ere-gaste voorgesit sal word. ʼn Kompetisie op soek na ʼn paslike naam vir die Lapa sal deur Mev. S. van Bosch geloods word.”

Die eerste foto hieronder is waarskynlik in 1993 geneem voordat die Lapa gebou is. E33/34 (?) is heel regs daarop sigbaar.

Op die onderste foto pryk die Lapa soos dit tans daar uitsien.





Sunday, 19 August 2018

Oord in perspektief

Gerhard van Rooyen, die voorsitter van die bestuurskomitee
Die voorsitter van die Warmbad Renaissance-bestuurskomitee, Gerhard van Rooyen, het onlangs in sy maandelikse boodskap aan die inwoners daarop gewys dat ons oord nie ʼn meenthuiskompleks is nie, maar ʼn sekuriteitsaftreeoord wat ingevolge die Wet op behuisingsontwikkelingskemas vir Afgetrede Persone, asook die Wet op Deeltitelskemas, bedryf word.

Dié boodskap verskyn in die September-uitgawe van die oord se maandelikse nuusbrief, Kwêvoël.

Die gemelde wetgewing vereis, onder andere, die opstel van gedragsreëls wat op inwoners en hulle besoekers van toepassing is.

Alle inwoners moet oor ʼn afskrif van die gedragsreëls beskik. Dit is by die oord se administratiewe beampte verkrygbaar.

“Dit sal miskien raadsaam wees indien u net weer deur die inhoud van ons gedragsreëls gaan om u geheue te verfris,” het Van Rooyen aan die hand gedoen. 

Saturday, 18 August 2018

We produce the tastiest vetkoek and mince in town

One of the popular Social Action activities took place in the Lapa recently. The top photograph shows the vetkoek bakers and below, the customers. Almost 200 vetkoeks were sold.




Saturday, 28 July 2018

Ons webtuiste lok Pieter en Sophia hierheen

Pieter (80) en Sophia Maas (79) het onlangs vanaf Lichtenburg hierheen verhuis.

Pieter en Sophia Maas
Hierdie egpaar het verskeie aftreeoorde elders oorweeg, dog ons webtuiste het ʼn deurslaggewende rol in hulle finale besluit gespeel. Hulle dogter het tydens ʼn internetsoektog daarop afgekom en dit aan hulle getoon. Hulle het terstond E10 gekoop omdat hulle dadelik geweet het dat Warmbad Renaissance die plek is waar hulle hul oudag wil slyt.

Tot dusver is hulle heel ingenome met hul besluit. Warmbad is op die platteland, dog naby Pretoria met sy uitmuntende mediese geriewe.   Hierbenewens voel hulle veilig in die oord en hulle mede-inwoners is vriendelik en behulpsaam. Die feit dat hulle twee kinders en twee kleinkinders in Pretoria woon, is gewis ʼn pluspunt.

Pieter sê dat hy op ʼn wa naby Springbok in Namakwaland gebore is. Hy het die skool aan die einde van graad 9 verlaat om op Pofadder in die poskantoor te werk. Die salaris was maar klein met die gevolg dat hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit het. Hy het mettertyd matriek “oor die pos” geslaag, verskeie polisieverwante kursusse suksesvol deurloop en uiteindelik met die rang van kaptein uit die polisiediens getree.

Sophia is op Kenhardt gebore en getoë. Nadat sy matriek aan die Hoërskool Kenhardt geslaag het, het sy ʼn onderwysdiploma aan die Onderwyskollege Paarl behaal. Sy het die onderwys op 52-jarige ouderdom vaarwel toegeroep nadat sy haar hele loopbaan lank vir die graad drietjies skoolgehou het. Haar laaste pos was by die Laerskool Coligny. 

Thursday, 26 July 2018

Só het ons oord ontwikkel (2)

Soos voorheen vermeld, beoog ons om in die volgende paar maande stories van ons oord se ontwikkeling te plaas. Hiervoor het ons soms gaan kers opsteek by persone wat betrokke was, maar meer dikwels het ons ons tot ou notules van die bestuurskomitee en foto-albums gewend en afgekom op kosbare grepies uit ons oord se verlede.

In die notule van ʼn buitengewone algemene vergadering wat op Donderdag, 9 Julie 1992 gehou is, verskyn die volgende paragraaf: 3.2  Die gemeenskapsentrum sal op 1 Oktober [1992] gereed wees vir okkupasie.”

Die buitengewone algemene vergadering wat op 9 Julie 1992 gehou is
Die gemeenskapsentrum in aanbou, ca. 1992. In die agtergrond verskyn reeds-voltooide eenhede 77, 78 en 79. Die munisipale watertoring troon bo die bouwerk uit
Die gemeenskapsentrum soos dit tans daar uitsien. Dit huisves Die Nes (links) en administratiewe kantore op regterhand
Die gemeenskapsentrum is die hartklop van ons oord se gemeenskapslewe. Hierdie foto is vroeër vanjaar tydens een van vele sosiale geleenthede geneem


Tuesday, 24 July 2018

Margaret vind 'n veilige tuiste.

Margaret Kotzé (75) het vanaf Lydenburg na ons oord verhuis. Sy het onlangs haar intrek in E131 geneem.


Margaret Kotzé
Margaret vertel dat sy haar later nie meer kon versoen met haar groot tuin en die koue winterwind wat in daardie geweste waai nie. Om nie te praat van die inbrake waarvan sy gereeld ʼn slagoffer was nie. Sy het mettertyd besluit om ʼn ogie in die seil te hou vir ʼn kleiner woning in ʼn veilige omgewing waar die winterweer warmer is.

Haar kinders het ná ʼn internetsoektog op ons webtuiste afgekom en dit aan haar gewys. Sy het intuïtief geweet dat dít die plek is waar sy graag wil woon. Die feit dat haar drie kinders en vyf kleinkinders op Secunda, Centurion en Boksburg woon en dus maklik bereikbaar is, het óók ʼn rol gespeel. 

Haar eggenoot, Dirk, het haar jare gelede ontval.

Margaret is op Tadcaster gebore en getoë. Sy is later na die Hoërskool Vaalharts op Jan Kempdorp waar sy in 1961 gematrikuleer het. Daarna is sy na die Denneoord-onderwyskollege wat toentertyd noue bande met die Universiteit van Stellenbosch gehandhaaf het. Sy was ʼn lid van die Stellenboschse Universiteitskoor onder leiding van die legendariese prof. Gawie Cilliers.

Denneoord-onderwyskollege, Stellenbosch
Nadat sy in 1963 die Hoër Onderwysdiploma in Kleinkindertuinonderwys behaal het, het sy ʼn graad 2-onderwyspos op Kuruman aanvaar. Later het sy by verskeie skole gewerk voordat sy op Lydenburg uitgetree het. Hier het sy saam met ons bestuurskomiteevoorsitter se ma, Trientjie, skoolgehou. Trouens, sy het ʼn huldeblyk geskryf wat in Trientjie se begrafnisbrief geplaas is.