Koos (75) en Jossie (75) Franken het in 1999
hulle intrek in E14 geneem en wil nêrens elders as in onse Bosveld-oase woon
nie.
Jossie en Koos Franken
Dit was 'n voorreg
om hulle lewe in oënskou te neem. Koos
was student, kelner, navorser, wetenskaplike, dosent en huisagent. Tans beoefen
hy die skilderkuns, bemoei hom met die sterrekunde en is versot op sy rekenaar.
Jossie was deurgaans vir hom 'n steunpilaar en tuisteskepper. Hierbenewens was
sy 'n gerekende huishoudkunde-onderwyseres en die skryfster van 'n reeks boeke
oor haar vak.
Koos is in Melville, Johannesburg, gebore en Jossie, in
Randfontein. Koos het in Johannesburg grootgeword
en in 1957 aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer. Jossie het die
matrikulasie-eksamen in 1958 aan die HoërskoolMonument geslaag. Koos is hierna na die Potchesftoomse
Universiteit waar hy 'n B.Sc.(Hons)-graad behaal het. Vervolgens het hy 'n
3-jarige Nasionale Hoër Tegniese Diploma in Wetenskap verwerf en 'n studiebesoek
aan die University of California, Los
Angeles (UCLA) in
die VSA gebring. Jossie het die Hoër Onderwysdiploma in Huishoudkunde aan die
Potchefstroomse Onderwyskollege behaal. Koos se professionele loopbaan was ewe
indrukwekkend. Terwyl hy in diens van die Suid-Afrikaanse Kamer van Mynwese
was, het hy navorsing in toegepaste fisiologie gedoen wat onder andere daartoe
gelei het dat protokolle ontwikkel is om die lewens van mynwerkers te beveilig.
Hieroor was hy die mede-outeur van verskeie vakkundige artikels. Vervolgens was
hy 'n dosent aan die toenmalige Tegniese Kollege van Pretoria (tans die Tshwane
Universiteit van Tegnologie) en
tree uiteindelik af as die direkteur van die Skool vir Gesondheidswetenskappe
en Biotegnologie van die Technikon Witwatersrand. Jossie
het huishoudkunde aan o.m. die Hoërskool Linden onderrig.
Nadat hulle in 1998
afgetree het, reageer hulle op 'n koerantadvertensie en verhuis na Warmbad
Renaissance waar Koos sommer dadelik
by oordaktiwiteite betrokke geraak het. Hy het onder andere wooneenhede namens
die ontwikkelaar verkoop, twaalf jaar in die bestuurskomitee gedien en die oord
se nuusbrief behartig. Jossie het verkies om 'n lae profiel te handhaaf. Sy het
gekook, naaldwerk gedoen en baie gelees.
Hierdie merkwaardige
egpaar is reeds 51 jaar getroud. Hulle het twee dogters en een kleindogter.
No comments:
Post a Comment