Johnny Meyer as voorsitter van die 2015-bestuurskomitee verkies
Na 'n kort blaaskans van 'n jaar, is Johnny Meyer tydens die
pasafgelope Algemene Jaarvergadering weer eens aangewys as voorsitter van die
Bestuurskomitee.
Johnny Meyer
Hy kan
met reg aanspraak maak op die benaming "strydros". Hy dien reeds
sedert 2005, met enkele kort onderbrekings, in die amp.
Johnny het voorheen getoon dat hy besondere deernis met die
inwoners van Warmbad Renaissance het. Hy is bereid om alles in sy vermoë te
doen om inwoners tot hulp te wees.
"Hulle kan
my enige tyd van die dag of nag om raad en bystand nader," sê hy.
Wat is sy vernaamste doelstelling vir 2015?
"Ek beoog om inwoners voortdurend aan te moedig om hulle
naaste lief te hê. Ons mense se geluk hang in hoë mate af van vreedsame
naasbestaan," sê hy met oortuiging.
Johnny en Shiela het dertien jaar gelede by Eenheid 78 ingetrek
nadat hulle vanaf Pretoria
hierheen verhuis het.
Johnny
is in Middelburg gebore en het in Pretoria
groot geword. Hy het sy ouers op 'n vroeë ouderdom verloor en moes gevolglik
gou uitspring om 'n geldjie te verdien toe hy 'n betrekking as 'n klerk by die
voormalige Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens aanvaar het. Hy het deeltyds
gestudeer en die matrikulasie-eksamen met goeie gevolg aan die Pretoriase
Tegniese Kollege afgelê.
Shiela is in Pretoria
gebore en het agttien jaar later aan die Hoërskool Carolina gematrikuleer. Sy en
Johnnie het kort voor lank op mekaar verlief geraak. Hulle het 56 jaar gelede
die knoop deurgehaak.
Intussen het Johnny hard gewerk en mettertyd die rang van Superintendent
bereik. Shiela het met ewe groot toewyding 'n standvastige huis vir hom en
hulle vier kinders geskep. Hulle spog ook met nege kleinkinders en vyf
agterkleinkinders.
In 1988 was Johnny genoodsaak om weens gesondheidsredes uit die diens van die SAS & H te tree.
No comments:
Post a Comment