Kort ná die Tweede
Vryheidsoorlog (1899 - 1902) skryf die Afrikaanse digter en skrywer, C Louis
Leipoldt, 'n gedig waarvan die titel In
die konsentrasiekamp is. Ek haal enkele verse daaruit aan: "En nou, wat
bly oor van jou rykdomme? Ja, 'n
Spreekwoord tot steun - daar's geen trooswoord beslister: ‘Geduld, o
geduld, wat so baie kan
dra!’"
C Louis Leipoldt
Hoewel in 'n ander
verband, vereis huidige omstandighede dat die inwoners van ons mooie omgewing
eweneens emmersvol geduld aan die dag moet lê.
Die dubbele aanslag
van beurtkrag en onderbrekings van tot drie opeenvolgende dae in die munisipale
watertoevoer na die oord wat sedert Oktober met eentonige reëlmaat plaasvind, beproef
die lankmoedigheid van ons inwoners terdeë.
Daar ís egter 'n
welkome liggie wat op hierdie swaarmoedige toedrag van sake skyn.
Danksy die
Bestuurskomitee se versiendheid sowat ses jaar gelede, is water by verskeie
buitekrane in die oord beskikbaar om aan die inwoners se basiese behoeftes te
voldoen indien die munisipale watertoevoer onderbreek word.
Die notules van die
Warmbad Renaissance Bestuurskomitee vanaf 1 Oktober 2009, vertel die storie.
Op hierdie datum
lui die notule dat "een of twee watertenks aangeskaf [moet] word vir
noodgevalle." 'n Ad hoc-komitee
word aangewys om die aangeleentheid te ondersoek.
Louis van Wyk
Nadat Louis van Wyk
'n kosteberekening gedoen het, keur die komitee op 29 Oktober 2009 die
installering van twee watertenks goed en versoek hom om daarmee voort te gaan.
Louis, 'n man wat nie gras onder sy voete laat groei nie, is verantwoordelik
vir die instandhouding van die oord se bates. Hierin word hy getrou bygestaan
deur ons faktotum, William Baloyi.
William Baloyi
Par. 10 van die
notule van 'n Algemene Jaarvergadering op 29 November 2009, lees soos volg: "Die
Bestuurskomitee het na deeglike oorweging besluit om twee watertenks, wat
elkeen 10 000ℓ neem, op te rig. Dit is vir gebruik in noodtoestande wanneer die
[munisipale water-]toevoer na die oord onderbreek word. Werner
Pauw (Ontwikkelaar) het een karavaan-afdak vir die plasing
van die tenks gratis beskikbaar gestel. Hy word hiervoor bedank."
Werner Pauw
Op 24 November 2011
word Louis versoek om pype vanaf die tenks na die Nes en vyf buitekrane aan te lê teen 'n koste van sowat R1 500. Die
doel hiervan was om te verseker dat inwoners maklike toegang tot water sou
hê indien die munisipale watertoevoer onderbreek word.
Op 26 Januarie 2012
berig die notule dat die installasie afgehandel is. Die totale koste was R23
881.00.
Op 31 Mei 2012 word
die moontlikheid van 'n boorgat geopper. 'n Inwoner wat ook 'n geoloog is,
Gerrit Fourie, sou versoek word om die haalbaarheid van soiets te ondersoek.
Indien dit nie die geval is nie, is "'n ander moontlikheid om nog twee
watertenks op te rig".
Gerrit het later
bevind dat 'n boorgat onprakties sou wees en op 30 Augustus 2012 besluit die
Bestuurskomitee dat dit "baie meer haalbaar is om nog twee tenks op te
rig." Hierdie besluit is later in die jaar ten uitvoer gebring.
Die watertenks
Louis van Wyk gee
ruimskoots erkenning aan die hulp en raad wat hy en William van 'n jare lange
inwoner, Koos Franken, ontvang het. Koos het, onder andere, 'n bepalende rol
gespeel in die plasing van die watertenks naby die westelike ingang tot die
karavaan-afdakke. Dié ingang verleen in 'n noodgeval maklike toegang aan 'n
munisipale watertenkvragmotor tot die watertenks.
No comments:
Post a Comment